Musiekmeester laat ’n blywende erfenis na
Musiekmeester prof. Chris Lamprecht is op die ouderdom van 99 oorlede en laat ’n blywende erfenis in Afrikaanse kerkmusiek na.
Suid-Afrika se kerke, kore en kultuurlewe het ’n musikale reus verloor. Prof. Chris Lamprecht, komponis, musikoloog, musiekverwerker en geliefde orrelis, is kort ná sy 99ste verjaardag op 6 November oorlede.
Sy nalatenskap leef in die liedere wat steeds in Afrikaanse kerke gesing, in skole aangeleer en deur kore uitgevoer word.
Vir Pretoria, die stad waar hy ’n besondere deel van sy professionele en musikale lewe deurgebring het, is sy afsterwe ook ’n reuseverlies.
Christian Engelbertus Lamprecht is op 1 Oktober 1927 in Bloemfontein gebore. Die Jakarandastad sou ’n deurslaggewende rol in sy lewe en loopbaan speel.
Sy verbintenis met die Universiteit van Pretoria en die NG Kerk Universiteitsoord het hom deel gemaak van die stad se musikale geskiedenis.
Ná sy aanvanklike musiekopleiding aan die Universiteit Stellenbosch en verdere studies in Europa het Lamprecht sy akademiese ontwikkeling in Suid-Afrika voortgesit.
In 1973 verwerf hy sy M.Mus.-graad aan die Universiteit van Pretoria. Hy sou later verskeie belangrike posisies by dié instelling beklee, onder meer as senior orreldosent en hoof van die Musiekdepartement.
Vir meer as twee dekades was hy die orrelis van die NG Kerk Universiteitsoord in Pretoria. Sy musiek het deel geword van die gemeente se aanbidding. Sy liedere is onlangs uitgevoer ter viering van die heringebruikneming van die gemeente se legendariese orrel.
As dosent en departementshoof het hy gehelp om jong musici op te lei en musiekonderrig aan die Universiteit van Pretoria uit te bou. Sy invloed sou veel verder strek as die studente wat direk onder hom studeer het.
Ná sy aftrede in 1987 het hy voortgegaan om te komponeer en musiek te verwerk. Sy werk het onder meer orrelkoraalvoorspele, koorwerke, klavierkomposisies en gewyde toonsettings ingesluit. Bekende werke soos Die Aandgesang, Immanuel en Wie het ek buiten U het deel van die Afrikaanse kerkmusiekskat geword.
Gedurende sy dienstyd by die Departement van Kultuursake teken hy ongeveer 800 Afrikaanse volksmelodieë uit Suid-Afrika en Namibië op. Van hierdie melodieë verwerk hy 250 met kitaarbegeleiding vir opnames deur die SAUK. Die verwerkings word tussen 1970 en 1975 in die radioreeks Dit kom van ver af uitgesaai.
In die FAK-sangbundel van 1979 word 52 van sy volksliedverwerkings en twee oorspronklike komposisies opgeneem. Hy het daarmee gehelp om liedere wat dikwels mondelings van geslag tot geslag oorgedra is, vir die nageslag te bewaar.
Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, beskryf die omvang van hierdie verlies treffend: “Min mense besef hoeveel van die liedere wat ons in kerke, skoolsale en gesinsverband sing, deur sy hande gegaan het.”
Volgens Langner het Lamprecht se musiek ware volksbesit geword. Sy werk het so deel van mense se alledaagse lewe geword dat baie mense sy melodieë sing sonder om noodwendig te weet wie dit geskep of verwerk het.
Die FAK het sy bydrae deur die jare op verskeie maniere erken. In 1989 ontvang hy die FAK-Prestigetoekenning en in 2016 die Andrew Murray-FAK-toekenning vir die bevordering van Christelike musiek.
Op 16 Maart 2025 het Langner hom namens die FAK by die NG Moedergemeente op George met ’n verdere Prestigetoekenning vir sy lewensbydrae tot Afrikaanse musiek vereer. Tydens dié geleentheid is Lamprecht se bekende Aandgesang deur die gemeente gesing terwyl hy voor in die kerk gestaan het.
Langner sê sy vrou, Elza, sy kinders en familie verloor ’n geliefde eggenoot, vader en familielid.
Ook ander musikante en koorleiers het hulde gebring. Die Pretoriaanse koorleier Franco Prinsloo van Vox Camerata het onder meer herinner aan die koor se kennismaking met Lamprecht se komposisie Vrugte van die Gees, geskryf op 12 Desember 2021. Die werk, gegrond op Psalm 16:11 en Galasiërs 5:22, getuig daarvan dat Lamprecht selfs op gevorderde leeftyd steeds nuwe musiek geskep het.
In 2017 is sy negentigste verjaardag gevier met die uitreiking van die dubbel-CD Chris Lamprecht 90 jaar-huldiging. Later is ’n waardevolle versameling van sy oorspronklike bladmusiek, manuskripte, publikasies, foto’s en ander dokumente deur sy seun, Charl Lamprecht, aan die FAK geskenk. Die versameling word in die argief van die Erfenisstigting by die Voortrekkermonument bewaar.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
