Local sportSport

Menlopark leerling wen goud vir Suid-Afrika by Jeug Olimpiese Spele

Megan Nieman, 17-jarige ster hekkies atleet van Die Hoërskool Menlopark, het Pretoria se eerste Jeug Olimpiese kampioen ooit geword toe sy Dinsdag die goue medalje in die 400m hekkies by die Jeug Olimpiese Spele in Dakar, Segegal, ingepalm het.

Die Hoërskool Menlopark se ster-atleet, Megan Nieman, het ’n nuwe hoogtepunt in haar atletiekloopbaan bereik toe sy Dinsdag by die Jeug Olimpiese Spele in Dakar, Senegal, eerste oor die wenstreep genael het in die eindrondte van die 400m hekkies vir vroue.

Nieman het die wedloop in ’n tyd van 57,75s gewen en met hierdie besondere prestasie het sy Suid-Afrika se derde goue medalje by dié spele ingepalm.

Dié graad 11 leerling van Die Hoërskool Menlopark het hakskene gewys vir ’n sterbelaaide groep atlete. Mina Hirsbrunner van Switserland was tweede in ’n tyd van 57,84s, terwyl Michell Carolina Gomez van Colombië – wat die beste tyd aangeteken het in Maandag se halfeindrondtes – derde geëindig het in 58,90s.  

Ironies genoeg was Nieman se wentyd van 57,75s meer as ’n sekonde stadiger as die Suid-Afrikaanse o.18 rekord (56,54s) wat sy in Maart vanjaar by die Suid-Afrikaanse junior kampioenskap in Germiston aangeteken het. Dit is ’n aanduiding van dié jong atleet se enorme potensiaal om ’n superster op die atletiekbaan te word.

Megan Nieman (middel) van Suid-Afrika saam met Mina Hirsbrunner van Switserland (links) en Michell Carolina Gomez van Colombië (regs) wat onderskeidelik tweede en derde geëindig het in die eindrondte van die 400m hekkies vir vroue by die Jeug Olimpiese Spele in Dakar, Senegal.
Foto: Olimpiese Spele

Tydens Dinsdag se eindrondte in Dakar het Nieman, wat in die sewende laan geloot was, oudergewoonte vinnig uit die blokke gekom en na 100m het dit gelyk of sy reeds voorloop.  Hirsbrunner het egter na sowat 150m die voortou geneem, maar om die laaste draai was die twee atlete weer kop-aan-kop en hierna was dit ’n wedloop tussen die Switser en die Suid-Afrikaner, met die ander gunsteling, Gomez, wat uitgesak het.

Nadat Nieman haar balans effens verloor het oor die tweedelaaste hekkie, wou dit lyk of Hirsbrunner maklik sou wen. Die ster-atleet van Pretoria het egter haar staal gewys en nadat sy oor die laaste hekkie nog byna twee meter agter Hirsbrunner was, het sy met verbysterende vaartversnelling tree-vir-tree die jong Switser ingehaal. Tien meter voor die wenstreep het sy verby Hirsbrunner geskiet om die wedloop skouspelagtig te wen.

Met hierdie vertoning het Nieman die teleurstelling van Wêreldatletiek se o.20 kampioenskap in Amerika oorkom, waar sy drie maande gelede die eindrondte van die 400m hekkies item met ’n breukdeel van ’n sekonde misgeloop het, toe sy ná ’n fotobeslissing vierde geëinig het in haar halfeindrondte-lopie.

Megan Nieman spog met haar goue medalje, nadat sy as Jeug Olimpiese Spele kampioen in die 400m hekkies vir vroue gekroon is.
Foto: Team SA

In Dakar het sy egter hierdie week skoonskip gemaak. Sy het Maandag haar lopie in die halfeindrondte in ’n tyd van 60,56s gewen. Hoewel vier atlete in die tweede lopie van die halfeindrondte beter tye as Nieman aangeteken het, het sy hulle almal in die eindrondte geklop om die goue medalje in te palm.  

“Ek het gedink ek gaan val, maar ek het gelukkig daarin geslaag om deur te druk oor die laaste 50 meter,” het Nieman na die wedloop gesê oor haar probleme oor die tweedelaaste hekkie.  

Sy het haar vriende en ouers vir hul ondersteuning bedank, asook haar afrigters vir hul hulp en bystand, waarna sy laastens eer aan God gebring het vir die talent en geleenthede wat sy ontvang.

Met nog drie dae van aksie oor het Suid-Afrika nou reeds tien medaljes – waarvan drie goud – by die spele gewen. Dit is die eerste keer ooit dat ’n Olimpiese sportgeleentheid op die Afrika kontinent aangebied word.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Koos Venter

Koos Venter is an experienced journalist who started his career 35 years ago, before the days of cellphones, modern computer systems, the internet and digital cameras, as a correspondent for Nexus, the former national magazine of the Department of Correctional Services. He has since worked for various other publications in all aspects of news coverage, as a columnist and in the production side of newspapers and online publications. Since 2007 he has specialized as a sports writer, while he is also regularly used as an analyst and commentator by several radio stations.
Back to top button