Local newsNewsStreeknuus

Eloff se Lita knap Witkruismonument op

“Dit is vandag 22 jaar later, maar ek is nog nie op die kruin van die berg nie. Ek klim, gly terug, dan begin ek maar weer van vooraf klim.”

Vir plaaslike inwoner Lita Cross Fourie lê die Witkruismonument aan die hang van die Ysterberg in Limpopo baie na aan die hart.

Sy en ’n handjievol vrywillige helpers het van 19 tot 24 April met broodnodige opknappingswerk by die monument begin.

“Die Witkruismonument het aandag nodig. Gewapen met verf en alles wat ons kon nodig hê, het ons weer die enorme taak aangepak.

Daardie kruise moes weer sigbaar wees,” het Cross Fourie gesê.

Volgens beraming was daar in 2020 sowat 2 506 kruise en ’n verdere 37 was gedurende 2021 geplant. Teen druktyd het Fourie Streeknuus meegedeel dat hulle hoop om sowat 500 kruise te restoureer.

Zanelle Lange is hier by die kruise van haar vermoorde oupa- en oumagrootjie, John en Bina Cross. (Foto: Lita Cross Fourie)

“Daar moet boonop ook bome gesny word en die gras moet ook gesny word. Die instandhouding van die terrein is ’n reuse taak en verantwoordelikheid.”

By die Witkruismonument word daar jaarliks kruise geplant vir slagoffers wat tydens plaasmoorde omgekom het.

Nie net is Cross Fourie sedert 2009 aktief betrokke en ook die hooforganiseerder van dié monument nie, sy het ook persoonlike belange daarby.

Haar seer is ook by Ysterberg geplant, die kruise van haar vermoorde ouers, John (77) en Bina (76) Cross.

Die Cross-egpaar is gedurende die Paasnaweek van 2000 op Sondag, 17 April, wreed gemartel waarna albei geskiet was.

Vir Cross Fourie het daar na haar ouers se dood, ’n lang pad voorgelê.

“Ek het daardie tyd gehoor van plaasaanvalle en plaasmoorde, maar soos baie mense steeds vandag doen, het ek geglo dat dit nooit met my sou gebeur nie.”

Die Witkruismonument aan die hang van die Ysterberg. (Foto: Witkruismonument, Facebook-blad)

Volgens Cross Fourie, sal die woorde; ‘Jammer Lita, albei jou ouers is oorlede,’ haar altyd bybly.

“Daar was soveel vrae, maar die antwoorde was min.”

Cross Fourie het besluit om die uiters wrede moord op haar ouers nie net daar te laat nie.

Twee beskuldigdes is vir die moord op haar ouers aangekeer en Cross Fourie het intensief by die vordering van die ondersoek asook die verhore van die twee beskuldigdes betrokke geraak.

“Dit is vandag 22 jaar later, maar ek is nog nie op die kruin van die berg nie. Ek klim, gly terug, dan begin ek maar weer van vooraf klim.”

Daar is ook hulde gebring aan slagoffers vanuit ons eie omgewing deur vir hulle kruise te plant.

Die mees onlangse kruise is die van Chantel Kershaw (44) van Sundra wat op 30 September 2020 vermoor is, Albert Küsel (63) wat op 3 Junie 2020 vermoor is, Bertus Steenberg (70) van die Kendal-omgewing wat op 7 Maart 2021 vermoor is en vele meer.

Hier word van die kruise by die Witkruismonument gerestoureer en oorgeverf. (Foto: Lita Cross Viljoen)

Terwyl Cross Fourie en haar spannetjie met herstelwerk besig was, het sy boonop nog slegte nuus ontvang.

Kennisse van haar, Louis en Ina Cloete is op 21 April in hul huis in die Levubu-omgewing vermoor en onherkenbaar in hul eie huis verbrand.

“Hartseer staan die kruise daar, en toe kry ek hierdie boodskap. Ook vir Louis en Ina sal daar kruise gedurende September 2022 verrys.

“Net nog ’n verhaal van seer, net nog ’n familie in rou.”

“Baie beskou dalk die monument as onnodig, maar elkeen van daardie kruise herinner ’n ieder en ’n elk jaarliks aan die werklikheid van plaasmoorde.

“Daar teen die Ysterberg staan die getuies hard en duidelik.”

“Die Witkruismonument is my passie. Die kruise wat praat, waar elke kruis ’n naam en ’n datum het en ’n baie diep en seer verhaal vertel. ’n Verhaal wat baie dalk nie wíl hoor nie.”

Die kruis van die vermoorde Albert Küsel vanuit die Sundra-omgewing. (Foto: Verskaf)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button