Jong vrou van Secunda deel getuienis oor brandwonde en letsels
Elsmarie Serfontein weet die Here het haar beskerm deur moeilike tyd.
Elsmarie Serfontein (21), oud-leerder van Hoërskool Secunda, glo die Here was by haar elke tree toe haar lewe in 2024 onherroeplik verander het.
Serfontein het, nadat sy gematrikuleer het in 2022, drama in Pretoria gaan studeer. Sy en haar ma, Madelaine Serfontein, sou in Desember 2024 vir ’n vakansie Kaap toe vlieg.
Serfontein het gereed gemaak om op 12 December 2024 vanaf Pretoria na Secunda te ry en wou toe net gou skoonmaakmiddels in die afvoerpype van haar woonstel gooi voordat sy vertrek.
Die bottel chemiese skoonmaakmiddel wat Serfontein altyd gebruik het om haar stort, toilet en wasbakke se afvoerpype skoon te maak, het egter in haar hande ontplof toe sy dit uit die kas gehaal het.

“Ek het ’n somersrokkie aan gehad en die skoonmaakmiddel het die rok se bandjies in my vel in gebrand,” het Serfontein vertel.
Haar nek, bors, gesig, regter arm en linker been het ook gebrand.
“Ek het my gesig met koue water afgespoel en vir die buurman gevra om my hospitaal toe te neem.”
Sy is eers Kloof Hospitaal toe geneem, maar dokters het aanbeveel dat sy eerder na Milpark Hospitaal oorgeplaas word en gesê Milpark is die beste hospitaal in die land vir brandwonde.
ALSO CHECK: Family blames cops for not doing enough to find missing eMbalenhle woman (19)
Sy is oorgeplaas na Milpark Hospitaal en het gehoor dat sy eerste- en tweede graadse brandwonde in haar gesig opgedoen het.
“Die plastiese sjirurg het gesê ek kan bly wees ek kan nog sien,” het Serfontein vertel.
Sy moes gedurende die volgende twee weke wat sy in die intensiewe sorg-eenheid van die hospitaal was, ses keer teater toe waar haar brondwonde skoon geskraap is.
“Dit was vir my die ergste.”
Serfontein het vertel al waarvoor sy gebid het vir haar verjaarsdag op 24 Desember, was om vanaf die intensiewe sorg-eenheid na ’n gewone saal oorgeplaas te word sodat haar familie en vriende kan kom kuier.

Sy het ’n sterk band gevorm met een van die susters wat in die intensiewe sorg-eenheid na haar omgesien het.
“Sy het vir my gesing, my kop gevryf, die hele aand by my kom sit en my net so mooi bygestaan deur die moeilike tyd.”
Serfontein is toe na ’n algemene saal geskuif en is op 26 Desember weer terug teater toe sodat veloorplantings gedoen kon word.
Die volgende paar weke was vir Serfontein die donkerste tyd omdat sy op bedrus was en ’n bedpan moes gebruik.

“Ek kon nie beweeg nie en moes stadig orent kom as ek wou regop sit. Dit is vernederend en ’n mens voel weerloos as almal om jou alles vir jou moet doen.”
Sy is uiteindelik, na ’n maand en drie dae in die hospitaal huis toe gestuur, maar het geweier om na haar letsels te kyk.
Sy het meer as ’n honderd krammetjies in haar lyf gehad na al die operasies en veloorplantings en prosedures.
Serfontein is in November verlede jaar na ’n ander plastiese chirurg wat aan haar nek en arm gewerk het.

Toe sy aanvanklik uit die hospitaal ontslaan is, het sy nie die volle gebruik van haar nek gehad nie, maar dit het intussen verbeter. Sy gaan steeds vir behandeling om haar letsels ligter te maak.
“Ek moet sê ek het nou lief geraak vir my letsels, want dit is vir my ’n bewys van hoe die Here my beskerm het.”
Serfontein leef haar passie uit op die verhoog en dink dit is belangrik om iets te doen waarvoor jy lief is.
Die kinderproduksie waarin sy optree, toer binnekort na Port Elizabeth en dan Nelspruit vir opvoerings.
Hulle sal by Innibos wat vroeg in Julie in Nelspruit plaasvind, te sien wees.







