Ermelo Hoëveld Landboufees
Voorbereidings vir die Hoëveld Landboufees, 3-5 Maart, is reeds goed op dreef en skougangers kan die jaar uitsien na musiekvermaak uit die boonste rakke.
Die agt-jarige Kosie Beukes, die jongste konsertinaspeler in Suid-Afrika, het op vyf al dié instrument bemeester, is op ses vir ‘n Ghoema toekenning vir beste boeremusiek CD benoem en is 13 instrumente magtig. Hy sal tydens die skou op die verhoog met sy konsertina te sien wees.
Skougangers kan ook uitsien na vertonings deur top kunstenaars soos Steve Hofmeyr, Bobby van Jaarsveld, 1925 BAND, Dagdroom en Marli Fourie en die Lyndansers.
Andries Hendrik Potgieter en Wiaan Fourie van SYAN produksies sal Donderdag en Vrydag met die feesgangers gesels vir hul program Feesgids wat weekliks op verskeie DSTV-kanale, Top TV en Open View uitgesaai word.
Na afloop van die hoofkunstenaars se optredes sal musiek tot 22:00 aangebied word.
Plaaslike talent soos Bennet Burger, AJ, Angie de Jager, Anél Moolman en Ryan Naudé sal sorg dat daar deurgaans musiek op die verhoog is, Anél en Ryan sal ook as serimoniemeesters optree.
Enige plaaslike kunstenaars wat belang stel om tydens skoutyd op te tree kan die skoukantoor by 071 691 7747 skakel.
Boeboe die nar sal soggens tussen 10:00 en 13:00 sorg vir die jongspan se vermaak.
Toegangsfooie is dié jaar verlaag en volwassenses kan vermaak uit die boonste rakke vir slegs R50.00 per dag geniet.
Ander kostes beloop: skoolgaande kinders: R30 per dag, skoolgroepe ( Donderdag en Vrydag): R20 per kind.
Pensioenarisse (65+) en voorskoolse kinders se toegang is gratis. Pensioenarisse moet bewys van ouderdom lewer.