Vliegvaardighede dié naweek beproef
Vlieëniers van die Ermelo Lugvaartvereniging en Secunda se navigasievermoë gaan Saterdag tot die uiterste beproef word.
Sowat 28 vliegtuie gaan deelneem aan ‘n taktiese navigasievlug waar hulle ‘n sekere roete in ‘n vooraf bepaalde tyd moet voltooi.
Elke vlieënier nomineer sy eie spoed. Hulle moet dan oor sekere teikens vlieg, dit fotografeer en die tyd op die kamera registreer. Die beoordelaars gebruik dan die foto’s en die tyd om die finale beoordeling te doen en die wenner aan te wys.
Daar gaan vermaak vir die hele gesin wees en die verrigtinge begin om 09:00 by die Ermelo vliegveld.
Hansie Kruger gaan sorg vir musiek en ‘n springkasteel gaan die kinders besig hou.
Worsrolletjies en sosaties sal teen R20 elk beskikbaar wees en daar sal ‘n kontantkroeg vir die dorstiges wees.
Toegang is gratis en besoekers moet hul eie stoele en sambrele bring.