Skole dis opwindende sport op
Die Liggies het op die rugbyveld oorheers maar op die Hokkieveld het Erries die botoon gevoer.

Die jaarlikse wintersportkragmeting tussen Ligbron Akademie vir Tegnologie en Hoërskool Ermelo het Saterdag onder groot belangstelling van die gemeenskap plaasgevind .
Op die rugbyveld het Ligbron oorheers en sewe uit die nege wedstryde gewen en gewys dat die skool in ‘n rugbykrag ontwikkel waarmee daar rekening gehou moet word.
In die hoofwedstryd het Ligbron se Calstar Group eerste span met 64 -34 geseëvier.
Ligbron het reeds binne die eerste nege minute sy stempel op die wedstryd afgedruk en met 12 – 0 voorgeloop.
Daarna het die spanne om die beurt punte aageteken met Ligbron wat beter daaraan toe was met vyf drieë en drie doelskoppe teenoor die Erries se een doel en twee strafskoppe. Die rustydtelling was 31 – 13 in Ligbron se guns.
Ná skaars twee minute in die tweede helfte het Ligbron toegeslaan en ‘n doel aangeteken waarna die Erries kort daarna met ‘n doel van hul eie geantwoord het.
Enige terugvegpoging wat die Erries sou gehad het, is deur die Liggies verydel toe hulle binne die bestek van nege minute twee doele en ‘n drie aangeteken het.
Die Erries het kort daarna hulle kanse beter benut en twee doele aangeteken, maar Ligbron het die laaste sê gehad met ‘n doel in die doodsnikke van die wedstryd om die eindtelling op 64 – 34 te staan te bring.
Vir Ligbron is drieë aangeteken deur Calvin Clack (2), Edward Deacon (1), Message Nkosi (1), Bernhard du Plessis (2), Njabulo Mahlobo (1), Johnny Blaauw (1), Thabiso Mkhwebane (1) en Isaac Pedro (1). Message Nkosi het Ligbron se doelskoppe aangeteken.
Die EHS se drieë is aangeteken deur Jan-Hendrik Swart, Ernst de Waal, Morné Janse van Rensburg en Gejhan Thyssen. Ruan Grobler het met vier doelskoppe en twee strafskoppe geslaag.
Ander tellings (Ligbron eerste) was: derde span 45-0, tweede span 62-5, 0/16A 20-14, 0/16B 24-7, 0/15A 17-31, 0/15B 15-12, 0/14A 67-0 en 0/14B 59-7.
Op die hokkieveld het Hoërskool Ermelo die botoon gevoer en vier uit die vyf wedstryde gewen.
In die wedstryd tussen die eerstes het die Erries halftyd 1-0 voorgeloop en in die tweede helfte nog twee doele agter in die kas gebêre vir hul 3-0 oorwinning.
Janice Harmse en Zané Rothmann was die puntemakers in dié wedstryd.
Ander tellings (EHS eerste) was: 0/16A 4-0, 0/15A 1-4 en 0/14A 2-0.






