Local newsMunicipalNews

Slaggate verskyn weer

Slaggate het na die eerste goeie reënval weer begin verskyn.

BETHAL – Dit is daardie tyd van die jaar waar slaggate weer dwarsdeur die dorp verskyn.

Die kombinasie van die verkeer en nat paaie of dalk die feit dat paaie swak onderhou word, is glo die oorsaak van slaggate tot die iritasie van motoriste.

Reënval gedurende die laaste paar weke het ‘n groot rol gespeel, asook natuurlik die talle vragmotors wat die paaie gebruik wat vir Bethallers niks buitengewoon is nie.

Vragmotorbestuurders gebruik Stasieweg daagliks wat groot skade aan die skouers van die pad veroorsaak en omdat die verkeer ook op die skouers ry eerder as deur die slaggate, veroorsaak dit dat paaie agteruit gaan.

Die gemeenskap pleit by die munisipaliteit om dié probleem aan te spreek, maar is bekommerd oor die Govan Mbeki Munisipaliteit se padbefondsing en die begrotingsbeperkinge op ander prioriteite wat dalk voorkomende instandhouding van paaie mag hinder.

Verskeie strate in die woongebiede is ‘n oorlas vir motoriste.

Slaggate raak al dieper en sonder behoorlike instandhouding, is skade aan voertuie onvermydelik.

Mnr. Henry Masango, waarnemende hoof van bemarking en kommunikasie van die munisipaliteit, het gesê: “Die munisipaliteit het nie ’n onbeperkte begroting nie en die instandhouding van paaie val binne ander kompeterende prioriteite en dienste aan die publiek.

“Die reënseisoen vererger die verdere agteruitgang van die paaie, maar waar en wanneer paaie nie meer bruikbaar is weens die weer nie, word noodinstandhouding gedoen om sterftes te voorkom.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button