LEANDRA – Familie van die oorledenes en mense wat 61 jaar gelede by die trein- en busongeluk betrokke was, onthou nog die gebeure en verlang steeds na hul geliefdes.
Dié ongeluk het op 13 November 1952 plaasgevind en 10 kinders en een volwassene is dood.
Mnr. Gordon Visser (81) was toe 20 jaar oud en ’n stoker van die trein.
Hy woon nou op Sasolburg, maar hy onthou nog die ongeluk en het vertel dat die skoolbus wat leerlinge van Laerskool Leandra vervoer het, op die treinspoor gaan staan het toe die busbestuurder, mnr. Willie Meyer (53), ’n hartaanval gekry het.
Die trein het aangekom en daar was niks wat iiemand kon doen om die trein te keer nie en die drywer kon ook nie betyds stop nie en die trein het die skoolbus vol kinders getref.
Daar is destyds ’n gedenksteen ter herinnering van die kinders by Oban opgerig, maar dié gedenksteen is in later jare na die skool geskuif waar dit meer toeganklik en sigbaar sou wees.
Leerlinge van Laerskool Leandra gaan vanjaar weer ’n kranslegging by die gedenksteen hou.
Die leerlinge wat in die ongeluk dood is, is Hannetjie Fourie (11), Nellie Fourie (11), Tinus Holtzhausen (12), Sareltjie Jacobs (10), Wimpie Meyer (13), Diekie Pretorius (13), Nico Pretorius (8), Bennie Prinsloo (10), Mary Muller (12) en Jimmy Roux (14).
Mnr. Meyer se kleinseun se vrou, me. Antonet Meyer (57), is tans ’n onderwyser by Laerskool Leandra.
Mnr. Meyer se seun is ook in die ongeluk dood.