
BETHAL – Verskeie inwoners van Bethal is keelvol vir die munisipaliteit se swak dienslewering.
Na die storm wat verskeie dorpe op Maandag, 7 Oktober getref het, wil dit voorkom of die dorp sigbare agteruitgang ondervind het.
Mnr. Walter Galloway wat ’n onderneming vanuit die voormalige Nestlé-gebou bestuur, het gesê dat hy vir 11 dae en 6 ure sonder krag was.
Me. Elizabeth Swarts wat in Bangleystraat woon, het gesê dat sy drie dae sonder krag was.
“Ons het ’n vier maande-oue baba.
“Dit is bykans onmoontlik om sonder krag na hom om te sien.
“Ek het ten minste 20 na 30 keer die munisipaliteit se oproepsentrum geskakel en elke keer is daar beloftes gemaak dat mense na ons uitgestuur sal word, bloot om ons hoop hoog te kry en dan daag niemand op nie.”
Volgens haar het munisipale werkers eers verlede week haar krag herstel wat glo net by die kragboks aangesit moes word.
Mnr. Gert de Beer oor wie die Ridge Times ook onlangs berig het en wat ook vir dae sonder krag was, het die Ridge Times ingelig dat munisipale werkers intussen ’n gat op die hoek van Van der Hyde- en Veralaan gegrou het om kragdrade te verbind.
Hulle het egter na dié werk die gat oopgelos en tot nou nog nie toegemaak nie.
Om sake te vererger, is inwoners ook ingelig dat die water op 5 November afgeskakel sou word.
Die water is egter die week vóór dit afgeskakel sonder enige kennisgewing.
Sommige inwoners het toe gereed gemaak vir nóg ’n wateronderbreking op 5 November, maar slegs inwoners in eMzinoni is daardeur geraak.
Sonder dat inwoners van Bethal dit verwag het, is hulle water op 6 November afgeskakel.
“Mense wat klagtes aanmeld, kry glo ook nie meer verwysingsnommers nie.”
Inwoners het gesê dat dit goed sou wees om die name van diegene wat beloftes maak maar dit nie nakom nie, te publiseer.
Mense skreeu “onbevoeg” en die probleme hoop op.
Mnr. Henry Masango, hoof van kommunikasie en bemarking van die Govan Mbeki Munisipaliteit, het gesê: “Dit onaanvaarbaar dat enige inwoner vir dae sonder krag is en dit dan deur middel van die media aan die munisipaliteit bekend te maak.
“Wanneer die probleem nie aangespreek word nie, moet inwoners na die volgende vlak beweeg as hulle dink daar is diensonderbrekings binne die munisipaliteit.
“Die eerste punt van aanmelding is die oproepsentrum.
“Verantwoordelike personeel is selfs teen die mees vyandigste en onbeleefde mense, wat soms hul woede en frustrasies uiter sonder om die probleem eers te veduidelik, opgelei.
“Die volgende punt is dié senior tegnici in hul onderskeie afdelings (elektrisiteit: mnr. Bheki Tshawe, Water en Riool: mnr. Zweli Masuku en ook die plaaslike areabestuurder mnr. King Sihlali).
“Dié beamptes is daar vir die gemeenskap en hulle poog altyd om ’n ononderbroke stelsel van munisipale dienslewering aan die gemeenskap te verskaf.
“In ’n verklaring uitgereik aan die Echo en Ridge Times op 29 Oktober is daar duidelikheid gegee oor die uitdagings met die elektriese netwerk sedert die storm op Maandag, 7 Oktober en dit lees soos volg:
“Die elektriese situasie is nie stabiel in Streek 1 nie en die rede daarvoor was swaar reënval en weerlig.
“Uitdagings is soos volg:
* eMzinoni Ou Lokasie – transformator langs eMzinoni High School deur weerlig getref, geen krag vanaf 6 tot 17de Straat.
* eMzinoni Uitbreiding 4 – elektriese bundel langs Sakhisizwe Primary School geaffekteer, ons span is tans besig met die probleem.
* Bethal Uitbreiding 23 – transformator by staanplek 4747 getref deur weerlig, geen krag in omliggende blokke.
* Krieketlaan en Schlossberglaan (Bethal Noord) – elektriese pale het omgeval daarom is daar gereelde kragonderbreking.”
Die Echo en Ridge Times het mnr. Masango bedank vir die uitlegging, maar ook gesê dat dit onvolledig is, omdat mense wil weet waarom hulle sonder water was en waarom daar geen kennisgewings gepubliseer is nie.
Hy is ook gevra watter vordering sedert 7 Oktober gemaak is, omdat ’n maand reeds verby is met probleme wat steeds net ophoop.
Hy is ook versoek om ’n volledige uiteensetting te gee van waar die munisipaliteit se fokus tans gestel is, sodat dit vir die publiek ook duidelikheid gee van die vordering.
Hy het gesê dat hy dié inligting van die senior tegnici in Bethal sal aanvra, maar dat hy nie in staat sal wees om dit teen spertyd te kan beantwoord nie.
“Die skedule van dié besonderhede sal vir volgende week se uitgawe, ná die insameling van al die feite, gereed wees.”