Local newsMunicipalNews

Smouse timmer heeldag

Munisipaliteit ondersoek probleem met onwettige smouse al sedert 31 Oktober.

SECUNDA – Inwoners wat langs die R29-pad tussen Secunda en Trichardt woon, is moeg vir die smouse wat hul ware langs dié pad verkoop.

“Hulle kap en timmer heel Saterdag of Sondag en gebruik ook die veld langs die pad as ’n toilet.

“Dit is onhigiënies en dit stink,” het ’n inwoner gesê.

Volgens dié inwoner het hy dié probleem al twee jaar gelede by die munisipaliteit aangemend, waarna hulle gesê het hulle sal dit ondersoek.

Niks het egter verander nie.

Die Echo en die Ridge Times het die bemarkings- en kommunikasiebestuurder van die Govan Mbeki Munisipaliteit, mnr. Henry Masango, vir kommentaar genader en gevra of dit wettig is vir dié smouse om hul ware langs die pad te maak en te verkoop.

Hy het gesê: “Die munisipaliteit sal dié probleem ondersoek en as ons vind dat dié smouse ’n probleem vir inwoners is, sal ons die wet toepas en enige onwettige aktiwiteite wat daar plaasvind, sal bedwing word.”

Die Echo en Ridge Times het hom meegedeel dat die munisipaliteit dieselfde kommentaar twee jaar gelede gegee het, waarna hy geantwoord het dat hy nie op hoorsê van twee jaar gelede kommentaar kan lewer nie.

Die koerant het hom toe gevra of die saak al ondersoek is omdat hy op 31 Oktober gesê het dat die munisipaliteit ondersoek sou instel.

Hy het geantwoord dat hy later daarop kommentaar sal lewer.

Die koerant het egter teen druktyd nog geen kommentaar van mnr. Masango ontvang nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button