Nuwe inwoners staan verstom
Volgens inwoners het nog niks vanaf verlede jaar verander nie, die stand van sake het inteendeel vererger.
KRIEL – Inwoners is geskok oor die haglike toestand van Kriel, asook die ingange na die dorp.
Mnr. Joos Coetzee, inwoner, het aan die Ridge Times gesê: “Toe ons op 27 November 2012 vanaf Roodepoort verhuis en Kriel binnegekom het, was ons geskok oor hoe die dorp lyk.
“My vrou se woorde was: ‘Dit is nie juis ’n aangename verwelkoming nie, of wat sê jy’?”
Hulle het verlede week ’n foto van die ingang geneem en dit vergelyk met verlede jaar toe hulle daar aangekom het.
Volgens hulle het nog niks verander nie, inteendeel die stand van sake het vererger.
“Dalk moet ons aanbeveel dat mense wat tot hier kom, net tot by die stop ry en nie links of regs kyk of afdraai nie en reguit aanhou.”
Afgesien van die slaggate rondom Kriel, is die algehele toestand van Kriel net so erg.
“Is ons dorpsbestuurders dan blind of wat kort?
“Het dit nie tyd geword dat ons bestuurders moet kry wat ook glo ‘cleanliness’ is ‘godliness’ nie?”
Mnr. Lebohang Mofokeng, woordvoerder van die eMalahleni Munisipaliteit, het nie teen druktyd kommentaar gelewer nie.



