DA ondersteun Bethallers
DA-raadslede het ondersoek op Bethal ingestel en na verskeie probleemgebiede gaan kyk.
BETHAL – Die Ridge Times het verlede week oor inwoners wat ’n petisie opgetrek het om by die munispaliteit in te dien, berig.
Bethallers was teleurgesteld in DA-raadslede se houding teenoor hulle en het hulle gedrag as onaanvaarbaar beskou.
’n Inwoner het gesê dat sy die DA-raadslid, mnr. Hein Badenhorst, gekontak het en dat sy antwoord was dat hy niks kon doen nie.
Sy het ook DA-raadslid mnr. Hannes van Baalen geskakel en sy antwoord was dat hy nie ’n elektrisiën is nie.
“Waar moet ons kla, want ons stemme word nie gehoor nie en ons word net geïgnoreer?”
DA-raadslede het egter vandeesweek ’n ondersoek op Bethal ingestel en na verskeie probleemgebiede gaan kyk.
Hulle het ook saam met van die inwoners gesit en beoog om inwoners te ondersteun tydens die oorhandiging van die petisie aan die munisipaliteit.
Me. Ena van Rooyen van die DA het gesê: “Ek en mnre. Tim Denny en Piet Labuschagne het met inwoners vergader.
“Ons het ’n opname van al hul klagtes, gepaard met fotos en die petisie gemaak.
“Daarvandaan het ons saam met hulle ’n paar kommerwekkende gebiede besoek.
“Ons beplan dat mnr. Labuschagne ’n vergaderig met die munisipale bestuurder en tegniese direkteur, mnre. Mmela Mahlangu en Bongani Mtshali, sal opstel waartydens dié bevindinge bespreek en die petisie deur mnr. Mahlangu geteken sal word.
“Ons is gedruk vir tyd en daarom wil ons gou optree sodat inwoners nie in die Desember-vakansie steeds in dié situasie sit nie.”
Mnr. Denny het gesê: “Soos met die kriminele aanklagte teen mnr. Mtshali wat ek in Oktober gelê het oor rioolprobleme in verskeie dorpe, beoog ons om nou ’n strafregtelike klag teen die elektriese direkteur vir die spesifieke gebied wat ons besoek het, te lê.”
Volgens die staatsaanklaer kan mens dié klagte indien wanneer nalatige en gevaarlike werk deur die munisipaliteit gedoen is.
“Ons wag egter eers vir die uitkoms van mnr. Labuschagne se vergadering met die betrokke partye voordat ons die klagtes gaan indien.
“Op dié wyse kan ons ten minste vra waarom die situasie op Bethal so toeneem.”
Die DA was besig met twee addisionele kriminele klagtes wat hulle aan die Menseregte Kommissie oorhandig het, maar het die saak met ander klagtes saamgesmelt en as een ingedien.
AfriForum is tans ook besig met aanklagte teen die munisipaliteit oor rioolprobleme.



