Kindergesiggies het gestraal
Kinderharte het warmer geklop toe hulle ook iets gekry het vir Kersfees.
STANDERTON – Die Christelike Maatskaplike Raad (CMR) het onlangs vir die kinders van Azalea ‘n Kerspartytjie gehou.
Die partytjie het 30 minderbevoorregte kinderharte bly gemaak.
Deur die jaar het die CMR, twee keer ‘n maand, vir dié kinders ‘n middagete aangebied.
Daarna het die kinders ‘n middagprogram gevolg wat bestaan het uit spanspeletjies en opvoedkundige lewensvaardighede.
ABSA-bank en -personeel het betrokke geraak by die projek en ondersteuning aan die CMR gebied met donasies in die vorm van koeldrank en versnaperinge.
Daar was ook vroeër die jaar met ‘n skoolvakansie ‘n praatjie aangebied oor hoe daar van jongsaf gespaar kan word en hoe om ‘n entrepreneur te wees.
By die onlangse partyjie het me. Dalene Hoffman, takbestuurder van ABSA, en van die personeel, die kinders met eetgoed en ‘n Kerspakkie bederf.
Die kinders het op hulle beurt die personeel met sang en musiek vermaak.
Die CMR wil volgende jaar die projek met ‘n na-skoolsentrum in Azalea uitbrei.
Hulle beoog om ‘n middagete te verskaf en ook te help met huiswerk.
Daar sal ook klasse wees in lewens-, hand-, rekenaar- en sosiale vaardighede. Sodoende word voorkom dat die kinders sonder toesig in die strate ronddwaal en betrokke by bende-aktiwiteite, dwelms en geweld raak.
Die CMR versoek dat as iemand betrokke wil raak as vrywillige werker of donateur om me. Rida Viljoen, kantoorkoördineerder, by 017 712 7110 te skakel of die maatskaplike werker, me. Marlene Malan, by 072 426 8327.



