Local newsMunicipalNews

Plotbewoners vir 7 dae gestrand

Die pad begin slote vorm en afgesien daarvan is dit ’n modderspul waarin ’n persoon sonder ’n goeie 4x4 nie sal uitkom nie.

BETHAL – Dit is nou al ’n week dat sommige inwoners by die plotte langs die R35-Middelburgpad gestrand is en nie met hul voertuie dié paaie kan gebruik nie.

Weens die hoeveelheid reën die laaste paar weke ,het die pad begin slote vorm en afgesien daarvan is dit ’n modderspul waarin ’n persoon sonder ’n goeie 4×4 nie sal uitkom nie.

Mnr. Jan van der Walt het gesê hy moet daagliks werk toe stap om sy werksbakkie te gaan haal.

Hy moet daarna sy vrou gaan oplaai en haar by die werk gaan aflaai.

“Dit is ’n aanhoudende gesukkel en munisipale werkers is nêrens te vinde nie.

“Ons weet ook nie meer waar om ons klagtes aan te meld nie, omdat die oproepsentrum nie doeltreffend is nie en omdat ons areabestuurder, mnr. King Sihlali, nie sy foon antwoord nie.

“Wat staan mense te doen as jy alle moontlike roetes om die probleem opgelos te kry volg, maar elke roete neem jou na ’n doodloopstraat?”

Die Ridge Times het die geval ook by die munisipaliteit per telefoniese gesprekke, e-poste en selfs SMSe aangemeld.

Mnr. Lucky Mhlongo, woordvoerder van die Govan Mbeki Munisipaliteit, het gesê dat hy na die probleem sal omsien, maar tot dusver was daar nog geen verligting vir inwoners nie.

Mnr. Van der Walt het die Ridge Times laat weet dat die pad wel gelyk geskraap is, maar dat mense steeds in die modderspul vassit.

Mnr. Henry Masango, hoof van kommunikasie van die Govan Mbeki Munisipaliteit, het gesê: “Die meeste van ons paaie is in ’n swak toestand wat deur die weer vererger is.

“Ons weet dit benodig dringend aandag en ons masjinerie word oorwerk om alle paaie veilig en verkeerbaar te maak.

“Ons vra om verskoning vir die ongerief.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button