BETHAL – Met paaie wat ontoeganklik is, gereelde kragonderbrekings en verwante diensleweringsprobleme, is dit geen wonder dat die woord instandhouding op meeste Bethallers se lippe is nie.
’n Storm het verlede jaar op 7 Oktober Bethal se fondamente geruk en skade aan verskeie inwoners se huise, ondernemings, skole en munisipale eiendom verrig.
Dit is al byna vier maande later en wanneer jy Bethal inry, lyk dit of die storm gister deur die dorp is.
Naamborde en rigtingaanwysers lê op die sypaadjies of hang halfmas teen pale, rommel waai deur die dorp en in sekere gebiede word dit onwettig gestrooi.
Briewe van inwoners getuig daarvan dat hulle al skaam is om op Bethal te bly en mense te nooi om te kom kuier.
Die DA en lede van die gemeenskap het onlangs ’n komitee gestig om inwoners wat munisipale diensleweringsklagtes het, by te staan en om vuur onder die munisipaliteit te maak vir vinniger reaksietyd.
Dit gons ook omtrent op die Facebookblaaie Bethal Nuus en Bethal Klagteforum oor die munisipale tekortkominge.
Mnr. Henry Masango, hoof van kommunikasie en bemarking van die Govan Mbeki Munisipaliteit, is gevra watter munisipale uitdagings hulle tans mee besig is en wat die nuwe jaar inhou.
Hy het gesê: “Die storm op 7 Oktober, het die hele Govan Mbeki gebied geraak, met Bethal wat die hardste getref is.
“Ons spanne is besig met opruimingsbedrywighede, maar van die beskadigde items, was nie te midde van die feestelike seisoen, wanneer die meeste vervaardigers besig was om te sluit vir die vakansie, beskikbaar nie.
“Sodra die bestelde voorraad afgelewer word, sal die naamborde weer opgerig word.”



