BETHAL – Slaggate langs die voormalige Nestlê-gebou in Malherbestraat maak padverbruikers die josie in.
Slaggate het na die onlangse oorstroming begin vorm.
Motoriste swaai vir dié gate uit en gebruik die aangrensende baan wat beteken dat hulle die risiko loop om met aankomende verkeer te bots.
Bethallers is dit eens dat die algehele toestand van paaie regdeur die dorp agteruitgegaan het.
“Dit is asof daar geen erns by die munisipaliteit is om die toestand van ons dorp te verbeter nie,” het ’n inwoner gesê.
“Indien die munisipaliteit nie die instandhouding doen nie, is ons beter af met grondpaaie.”
Mnr. Henry Masango, hoof van bemarking en kommunikasie van die Govan Mbeki Munisipaliteit, het gesê: “Die meeste van ons paaie is in ’n swak toestand wat deur die afgelope maande se swaar reën vererger is.
“Geen behoorlike onderhoud kon weens die klammigheid van die grond uitgevoer word nie.
“Daar is vir die Departement van Openbare Werke ’n sperdatum, naamlik 30 Junie, gegee om alle padinstandhoudingsprojekte te sluit.
“Die toestand van die genoemde straat is onder hul aandag gebring en dit sal binnekort herstel word.”