Steeds geen samewerking van munisipaliteit
Hoof het voorgestel dat hy die onkoste sou dra as munisipaliteit hobbels sou oprig.
BETHAL – Persooneellede en ouers van leerlinge van Laerskool H.M. Swart het by die Govan Mbeki Munisipaliteit gepleit om spoedhobbels by gevaarlike kruisings op te rig, maar tevergeefs.
Die hoof, mnr. Kobus du Plessis, het verlede jaar gesê dat die skool self die spoedhobbels wou oprig, maar dat dit deur die munisipaliteit verbied is.
Hy het ook voorgestel dat hy die onkoste sou dra as die munisipaliteit dit sou oprig.
Sommige skole het vandag weer heropen en ouers is steeds bekommerd dat hul kinders se veiligheid deur die munisipaliteit geminag word.
Volgens ’n ouer jaag minibusse glo in die gebied en maak onwettige U-draaie as hulle leerlinge aflaai of optel.
Die saak is weer onder die aandag van mnr. Henry Masango, hoof van bemarking en kommunikasie van die munisipaliteit, gebring.
Hy het gesê: “Diensverskaffers is vir die oprigting van spoedbulte aangestel.
“Dié spoedwalle sal nie later as die einde van Februarie geïnstalleer word nie.”



