Waterrekeninge styg
Volgens munisipale personeel kon hulle vir ’n jaar nie mnr. Koekemoer se watermeter lees nie omdat dit blykbaar onder water was en waarom hy nou so ’n hoë rekening gekry het.

SECUNDA – Verskeie inwoners het waterrekeninge van bykans R6 000 vir Desember gekry.
Mnr. Dries Koekemoer was geskok toe hy ’n rekening van R5 549-58 ontvang het.
Hy het navraag by die munisipaliteit gedoen waar die personeel gesê het hy moet “maar net die rekening betaal”.
Volgens munisipale personeel kon hulle vir ’n jaar nie mnr. Koekemoer se watermeter lees nie omdat dit blykbaar onder water was en waarom hy nou so ’n hoë rekening gekry het.
“My meter was nie toe onder water nie en ek was nie tevrede met daardie bedrag nie,” het mnr. Koekemoer gesê.
Hy het gemerk dat die bedrag vir die riool R2 161 was en navraag daaroor gedoen.
Die munisipaliteit het toe weer die rekening uitgewerk en hy moes R3 841-59 betaal.
Sy rekening vir die vorige maand was R2 382.
“Ek wil mense waarsku om navraag te doen as hul rekeninge so hoog is,” het mnr. Koekemoer gesê.
Hy het vir ’n werknemer van die munisipaliteit gesê as hulle hul werk gedoen het, sou hy nie nou so ’n hoë rekening gekry het nie, waarna sy gesê het hy sal dit maar net moet betaal.
“Hulle doen nie hul werk nie, nou moet ons betaal.
“Die meter was beslis nie onder water nie, waarheen gaan daardie geld?” het mnr. Koekemoer gevra.
Die Ridge Times en die Echo het van ander inwoners verneem wie se rekeninge bykans R7 000 was.
Die hoof van kommunikasie en bemarking van die Govan Mbeki Munisipaliteit, mnr. Henry Masango, wag vir kommentaar van die betrokke departement en sal volgende week kommentaar lewer.