Geen toetsbeamptes by lisensiekantore
“Ek moet elke keer tyd by die werk afneem net om daar aan te kom en niemand kan my help nie.”

SECUNDA – Inwoners wat afsprake gemaak het om vir hul bestuurderslisensies by Secunda Lisensiekantore te gaan, het daar opgedaag net om te hoor dat daar nie ’n toetsbeampte beskikbaar was om hulle te help nie.
Een van die inwoners het die eerste keer op 19 Maart gegaan en niemand kon haar help nie.
Sy moes weer ’n afspraak vir 3 April maak en het die lisensiekantore voor dié datum geskakel om haar afspraak te bevestig.
Toe sy daar opdaag, was daar egter weer eens geen toetsbeampte beskikbaar nie.
Dié inwoner het deur ’n bestuurskool gewerk en glo die bestuurskool moes elke keer vir ’n nuwe afspraak betaal.
’n Ander inwoner wat nie deur ’n bestuurskool gewerk het nie en dieselfde stel afgetrap het by die lisensiekantore, moes elke keer vir ’n nuwe afspraak betaal.
“Ek moet elke keer tyd by die werk afneem net om daar aan te kom en niemand kan my help nie,” het sy gesê.
Die Echo het die hoof van bemarking en kommunikasie van die Govan Mbeki Munisipaliteit, mnr. Henry Masango, om kommentaar gevra, maar hy het teen druktyd nog nie reageer nie.



