Inwoners wat by Standerton Korrektiewe Dienste bly, is woedend na hulle reeds vier weke sonder water sit.
‘n Munisipale trok lewer vir die gevangenes water af, maar die mense wat daar werk en bly moet water koop.
“As ons vyf liter daagliks uit die krane kry, is dit baie,” het ‘n inwoner gesê.
Die drukking is nie genoeg om eers te stort nie.
“As jy bel om uit te vind wat die probleem is, word jy net deurgesit na iemand wat nooit op kantoor is nie,” het me. Erika Smit gesê.
Die Lekwa Munisipaliteit het verlede week ‘n watertrok gestuur vir die inwoners, maar almal is nie in kennis gestel nie, met die gevolg dat baie mense nie water gekry het nie.
Die tuine word ook weens die waterprobleem afgeskeep.
Mnr. Sipho Mkwanazi, woordvoerder van die munisipaliteit, het nie teen druktyd kommentaar gelewer nie.



