‘n Gevaarlike sloot, sowat ‘n meter en ‘n half diep, in Princess-straat is onlangs, nadat die Standerton Advertiser ‘n foto geneem het, met veiligheidsband afgebaken.
Kontrakteurs van die Gert Sibande Kollege het die gat gegrou, wat die verantwoordelikheid op hulle skouers plaas om die nodige veiligheidsmaatreëls te tref.
‘n Inwoner het haar bekommernis uitgespreek oor voetgangers wat beseer kan word.
“Dit is bitter moeilik om op die sypaadjie te loop,” het sy gesê.
In Walter Sisulurylaan voorts is ’n waterpyp wat gebars het.
Die pyp is reggemaak, maar die watergat, sowat twee en ‘n half meter diep, is nie deur werkers van die Lekwa Munisipaliteit toegemaak of afgebaken nie.
Voetgangers op pad na Sakhile in die aand word hierdeur geraak en die moontlikheid bestaan dat kinders in die gat kan val.
Mnr. Sipho Mkwanazi, woordvoerder van die Lekwa Munisipaliteit, kon nie teen druktyd kommentaar lewer nie.
Mnr. Michael Radzilani, woorvoerder van die Gert Sibande FET Kollege, het gesê omdat hulle tans ‘n muur daar bou, is dit nie afgebaken nie, maar as hulle in die aand klaar is, word dit dadelik afgebaken.



