NewsSchools

Koerantman onthou Errie-onderwysers

Die respek wat hy by die gemeenskap gekweek het, was baie duidelik een Saterdagoggend in 1960 toe ouers en onderwysers tot sy redding gekom het by ’n rugbywedstryd in Standerton.

Oud-Errie en bekende koerantman oom Corrie Kleinhaus het vroeg in sy lewe sy voorliefde vir skryf ontdek.
Hy het deeltyds vir die Hoëvelder geskryf wat gelei het tot sy aanstelling by die Springs en Brakpan Advertiser.
10 maande later, in 1950, is hy terug verplaas Ermelo toe waar hy die redakteurspos by die Hoëvelder aanvaar het.
Oom Corrie vertel dat die redaksie toe slegs uit hom en tannie Bessie Schwartz bestaan het. Hoewel hy redakteur was, moes hy ook as verslaggewer, fotograaf, proefleser en vertaler optree.
Hy dek reeds sedert 1950 al die EHS se rugbywedstryde wat hy kan en dié 87-jarige is steeds week ná week op sy pos langs die rugbyveld en berig met oorgawe oor elke drie, skop en duikslag.
Die respek wat hy by die gemeenskap gekweek het, was baie duidelik een Saterdagoggend in 1960 toe ouers en onderwysers tot sy redding gekom het by ’n rugbywedstryd in Standerton.
Volgens oom Corrie, het ’n onderwyser van Standerton gal gebraak oor die pers en publisiteit wat verantwoordelik was vir die vyandskap tussen die skole.
Oom Corrie, wat nie met die stelling saamgestem het nie, tik toe die man op die skouer en sê dat hý van die pers is. Die volgende oomblik dreig die ontstelde onderwyser om Corrie se weglê-snor uit te ruk, maar sekondes later het die Ermeloërs ’n kring om die manne gevorm en die onderwyser het besef dat hy sleg tweede gaan kom en weggestap
Oom Corrie se liefde vir die EHS en rugby is duidelik.
In 2001 verskyn die boek Die rugbysage van Hoërskool Ermelo – weer die kampioene ná 80 jaar, waarvan hy medeskrywer is saam met prof. Heinrich Schulze, ook ’n oud-Errie.
Hulle is tans besig met die opvolgboek wat die eeu van Errie-rugby sal dek.
Oom Corrie het ook bykans 60 jaar lank die interhoër-atletiekbyeenkomste gedek en ná sy aftrede in 1994, dien hy steeds die gemeenskap as vryskut-joernalis vir die Hoëvelder.
Corrie onthou van die onderwysers wat ’n indruk op hom gemaak het tydens sy skooljare soos me. Jenny Streicher (me. De Beer).
“Hoe ek Engels eersteklas in st. 8 kon slaag, sal net sy weet.”
Oom Corrie onthou hoe sy hom aan die kuif gegryp het nadat hy verbrou het en ’n bos hare in die proses uitgetrek het. Laggend skerts hy dat daar nou nog ’n kol sit.
Mnr. L.D.M. Stopforth (Stoppies) het gesorg vir een van die twee pakke slae wat oom Corrie op hoërskool moes verduur. Volgens oom Corrie, het Stoppies gesê: “Six feet of misery, sit down before you drop” nadat hy (natuurlik!) nie mondeling verslag kon doen nie oor ’n hoofstuk wat hy as huiswerk vir die boekThe mystery of Grey Towers moes skryf en dit nie gedoen het nie.Verder onthou hy ook die sagmoedige Afrikaanse mnr. H.N. Roux (Boetie) wat die liefde vir sy moedertaal by hom gekweek het.
Boetie het die skrywer van die beste opstel glo met lekkers beloon, maar kon dit nie oor sy hart kry om nie maar vir almal in die klas elk ’n lekker te gee nie.
Oom Corrie kan nou nog in sy geestesoog sien hoe mnr. J.A. Spruyt (Bismarck) die st. 8-seuns in die fynere kunsies van sang onderrig het.
Mnr. Jim Grewar het Matesis (meetkunde en algebra) aangebied.
Almal was vir dié man baie lugtig en hoewel wiskunde Grieks was, was almal te bang om te vra wanneer hulle iets nie verstaan het nie.
Mnr. Grewar het altyd gewaarsku: “Julle sal druip soos bakstene.”
Oom Corrie onthou ook vir mnr. J.S.P. Siebrits (Siebie) wat met sy Bolandse aksent sê: “Loep is goed vir die biene” en die boekhou-meneer, Koos Grobler (Bakkies), wat gereken het solank jy pap kan eet, kan jy boekhou doen.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button