SECUNDA – ‘n Motoris was verstom toe sy Dinsdag, 1 Julie deur verkeersbeamptes ingelig is dat sy ‘n boete sedert 2012 uitstaande het.
Wat haar nog meer verbaas het, was toe sy gevra het om na die gedrukte dokument te kyk en gesien het dat sy in 2099 in die hof moet verskyn.
“Hulle het ‘n padblokkade gehad en my afgetrek,” het sy gesê.
Sy moes met haar motor oor toerusting ry waarmee hulle ‘n foto neem en die motor se inligting kry.
Volgens haar het sy geen uitstaande boetes nie en sy het haar motorlisensie in Oktober verlede jaar hernieu.
“As ek ‘n boete van 2012 uitstaande gehad het, hoe kon ek dan my lisensie in Oktober hernieu het?”
Die verkeersbeampte het gesê dat sy haar hofdatum gemis het, waarna sy gevra het om na die gedrukte dokument wat hy in sy hande gehad het, te kyk. Volgens dié dokument moet sy in 2099 in die hof verskyn. Die verkeersbeampte het gesê sy moet ry nadat sy dié uitgewys het. Die Ridge Times het die hoof van bemarking en kommunikasie van die Govan Mbeki Munisipaliteit, mnr. Henry Masango, om kommentaar genader en hy het gevra dat die koerant die dokument aan hom stuur sodat die munisipaliteit dit kan ondersoek.



