Local newsMunicipalNews

Nóg ’n vrou moet in 2099 in hof verskyn

Govan Mbeki Munisipaliteit se verkeersafdeling se sisteem is glo twee tot drie jaar agter.

SECUNDA – Na verlede week se artikel, “Vrou moet in 2099 in hof verskyn”, het nóg ’n vrou wat presies dieselfde probleem het, die Ridge Times besoek.

Hulle het onderskeidelik op Dinsdag, 1 Julie tussen Evander en Secunda afgetrek, waarna hulle deur verkeersbeamptes ingelig is dat hulle sedert 2012 uitstaande boetes het.

Die hofdatum op albei vroue se dokumente is in 2099.

Een van dié vroue het twee dokumente vir boetes gekry.

Volgens dié dokumente het sy twee boetes uitstaande.

Vir een boete moet sy eers in 2099 in die hof verskyn en vir die ander een in Augustus vanjaar.

Sy is met haar dokumente na die verkeersafdeling op Trichardt en wou die foto’s sien waarvolgens sy die boetes gekry het.

Die foto’s het aangedui dat sy wel met die verkeersbeamptes se kameras afgeneem is.

Die datums vir die oortredings is onderskeidelik in 2012 en 2013, maar dit is die eerste keer wat dié motoris van dié boetes hoor.

Sy is daarna na die hof op Evander om duidelikheid oor dié boetes te kry en een van die werknemers daar het vir haar gesê die verkeersafdeling se stelsel is met twee of drie jaar agter en dit is waarom sy nou eers boetes vir dié oortredings kry.

Sy het egter ook nes die ander motoris, haar lisensie in Junie vanjaar hernieu sonder enige probleme.

Mnr. Henry Masango, hoof van bemarking en kommunikasie van die Govan Mbeki Munisipaliteit, het gesê: “Daar is absoluut geen geskil rakende dié verkeersoortredings en die daaropvolgende boetes nie.

“Wat egter verwarrend is, is die rekenaarfout ten opsigte van die hofdatums.

“Al dié boetes wat uitgereik is, is egter geldig en die nodige regstelings vir nuwe hofdatums sal effektief wees.”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button