SECUNDA – Lede van die Secunda 4×4-klub het op Saterdag, 26 Julie byeengekom om hulself vir ’n interklubkompetisie wat op 16 Augustus plaasvind, voor te berei.
Dié kompetisie vind naby Hartebeespoortdam plaas en die doel van Saterdag se oefening was dat die bestuurder en die navigator mekaar beter kon leer ken en verstaan.
“Die uitdagings wat gaan plaasvind, gaan meer as die vernuf van die bestuurder toets,” het een van die klublede, mnr. Piet Potgieter, gesê.
“Die span wat gaan deelneem sal bestaan uit tien voertuie wat aan verskeie items moet deelneem en dit teen tyd.
“Die uitdagings wat aangebied word, verskil jaarliks en dit is moeilik om voor te berei hoewel verskeie idees die naweek geoefen is.”
Lede se wegspringplekke tydens die komende kompetisie is ook die naweek bepaal.
Rudi van der Merwe het Saterdag se 4×4-dag gewen en in totaal 689 punte behaal.
Cobus Mouton was tweede met 655 punte, Richard White derde met 625 punte, Hennie Grobler vierde met 585 punte en Tyron Boucher vyfde met 579 punte.
Ruan Louw het sesde geëindig met 575 punte, Willem Klopper sewende met 570 punte, Rikus agtste met 458 punte, Heintjie du Toit negende met 455 punte en Neels Rautenbach 10de met 394 punte.
Vir meer inligting oor Secunda 4×4-klub of om by die 4×4-dae betrokke te raak, skakel die voorsitter, mnr. Rudi van der Merwe, by 082 880 8020 of die sekretaris, mnr. Cobus Mouton, by 076 979 7857.



