Suid-Afrikaanse blinde skaakkampioen besoek dorp
“Besef hoe bevoorreg jy is om al jou sintuie te hê.”
SECUNDA – Die Suid-Afrikaanse blinde skaakkampioen, Len Viljoen, het Saterdag by Hoërskool Secunda tydens die Gert Sibande-skaaktoernooi opgetree en teen van die deelnemers gespeel.
Viljoen is ook ’n gospelsanger en het met gebed geopen en ’n paar liedjies gesing.
Hy is blind gebore en het op Worcester grootgeword waar hy in die Skool vir Blindes was.
Viljoen het in 2008 vir die eerste keer die Suid-Afrikaanse Blinde Skaakkampioenskappe gewen en verlede jaar weer.
Hy het Fillipense 4:13 aangehaal en gesê dit wat hy vermag het, is net deur die genade van die Here.
“Ek moes ’n paar struikelblokke in my lewe oorkom,” het Viljoen gesê.
Hy het vertel van ’n man by ’n skaakklub op Worcester wat doof en blind is en wie se grootste plesier in die lewe was om aan ’n skaaktoernooi deel te neem.
“Deursettingsvermoë is ’n bepalende faktor of jy ’n sukses van jou lewe gaan maak,” het Viljoen gesê en vertel van ’n man wat aan ’n ventilator gekoppel is en skaak speel.
“Besef hoe bevoorreg jy is om al jou sintuie te hê.
“Jou gesindheid in die lewe is ook belangrik,” het hy gesê.
Mnr. Johnny Roselt, een van die organiseerders van die skaaktoernooi, het mnr. Johan Rosslee van Roos en Rosslee bedank wat Viljoen se verblyf geborg het.



