Daar is iets in die water
Vullis is ook oral te sien met die visse wat onderstebo, saam met die vuilgoed, dryf.
Na ‘n ondersoek by die Rivierpark op 25 Augustus deur die Standerton Advertiser, is dooie visse in die Vaalrivier gevind.
Die rivier is honderde kilometers lank, maar slegs binne 50 meter is agt dooie visse langs die oewer opgemerk.
Vullis is ook oral te sien met die visse wat onderstebo, saam met die vuilgoed, dryf.
By die ingang van die woonwapark is ‘n mangat met riool wat die pad af tot in die rivier stroom.
‘n Mens word by die ingang deur vullis aan albei kante van die pad, met nie ‘n tent of woonwa in sig nie, verwelkom.
Asblikke is oral te sien, maar meeste het nie eens bodems nie en die vuilgoed is die park vol.
Die reuk van riool en dooie visse moet liefs nie op ‘n nugter maag beleef word nie. Die vorige restaurant, wat afgebrand het, is nog ‘n seeroog. Die rivierpark was ‘n plek van ontspanning vir die hele gesin, maar nou lyk dit of mense dit eerder wil vermy.
Daar is in die verlede vir mnr. Sipho Mkwanazi, woordvoerder van die Lekwa Munisipaliteit, gevra hoekom die vullis oral in die park rondlê, waarop hy geantwoord het dat hy al deur die park gery en alles vir hom reg gelyk het.



