Local newsNews

Brand rig groot skade aan

Hefpa bepaal boere se skade en gebied wat gebrand het.

TRICHARDT – Die Hoëveld Oos Brandbeskermings Assosiasie (Hefpa) het ná die verwoestende brande wat Secunda en omliggende gebiede aan die einde van Augustus en begin September geteister het, vergader en terugvoer gegee.

Volgens mnr. Gerrie du Preez, voorsitter van Hefpa, is daar bevestig dat die oorsaak van die brande nie by Sasol was nie, maar wel buite Sasol se grense.

“Weens die sterk wind wat met tye tot 71km per uur gewaai het, was Sasol die eerste slagoffer van die brande,” het mnr. Du Preez gesê.

Dit is bevestig dat ’n totale gebied van 30 000 hektaar binne twee dae afgebrand het met ’n beraamde skade van R11 miljoen.

Dié skade sluit boere se implemente, weiding, voer en diere in.

Mnr. Du Preez het almal wat betrokke was en gehelp het om die brand te probeer stop, bedank.

“Mense het van ver gekom om te kom help.”

Hy het ’n lang lys van mense bedank, maar Sasol Brandweerdienste, Secunda Brandweerdienste, Bethal Brandweerdienste (in besonder mnr. Hennie Olivier wat met verlof was gedurende die tyd) en die span van Protect-O-Brun onder leiding van mnr. Paul Andrews, uitgesonder.

“Dankie vir jul bydrae, nie net met water wat aangery is nie, maar ook jul hande wat beskikbaar was.

“Danksy dit, is die vure in die wind vinniger gestop as wat die boere dit op hul eie sou kon doen.”

Mnr. Du Preez het tydens dié vergadering as voorsitter uitgetree en die leisels aan mnr. Paul Andrews oorgegee.

Daar sal by ’n volgende vergadering ’n nuwe voorsitter en operasionele span gekies word.

Sasol Brandweerdienste het ’n brandweer-offisiershelm as geskenk aan mnr. Du Preez gegee vir sy onbaatsugtige werk.

Die nasionale wet oor veld- en bosbrande van 1998 is weer bespreek, asook die boetes wat uitgegee kan word indien daar nie aan dié wet voldoen word nie.

Die volledige wet en boetelys kan op aanvraag gekry word by mnre. Du Preez of Andrews.

“Die wet is opgehaal om die struktuur vir die bedryf van Hefpa en alle belanghebbendes se rolle duidelik te maak.

“Dit sluit grondeienaars, huurders en gebruikers op landbou-, industriële en munisipale grond in.”

Boere en lede van Hefpa het gesels oor hoe hulle in die toekoms kan verbeter en oor watter lesse hulle in die brandseisoen geleer het.

“Die brandseisoen is steeds tot ná die eerste 10mm enkelbui reën in die nuwe reënseisoen geval het aan die gang en enige brand wat in die Govan Mbeki munisipale gebied voorkom, moet aan Hefpa deurgegee word.”

Vir meer inligting oor Hefpa, skakel mnr. Andrews by 073 984 1617 of mnr. Du Preez by 078 902 2897.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button