Bethal-diewe gevang
GPF-voorsitter is stomgeslaan oor hoe vinnig Bethallers gereageer het.
BETHAL – Lede van die gemeenskapspolisieforum (GPF) en die plaaslike polisie het Sondag, 19 Oktober drie inbrekers in hegtenis geneem.
’n Inwoner het op die GPF WhatsAppgroep gesê dat sy vensters by haar buurman, mnr. Gert Delport, se stoorhuis op die hoek van Noord- en van der Hydelaan hoor breek het.
Mnr. Werner Herselman, voorsitter, het dadelik gereageer en na die huis gery, terwyl me. Michelle Viljoen, DA-raadslid, die boodkskap op die GMM WhatsApp versprei het.
“Ek het oor die muur geklim en die inbrekers gesien en op die WhatsAppgroep om hulp gevra,” het mnr. Herselman gesê.
“Daar was binne vyf minute 30 mense om te help.”
Twee inbrekers het in Bethalrand se rigting weggehardloop en die ander een in die veld in.
Mnr. Walter Arrow het die een in die veld gevang en mnre. Tiens Els en Peet Venter die ander twee.
“Ek is stomgeslaan oor hoe vinnig die mense gereageer het en na dié gebeure weet ek dat ons saam misdaad kan bekamp, ” het mnr. Herselman gesê.
Volgens die polisie is die drie mans nog in aanhouding en nog geen saak is gemaak nie omdat hulle vir vingerafdrukke wag.



