Kankerlyer van lewensnoodsaaklike medisyne besteel
Sy vrou, Valerie, was ook nie tuis nie, omdat sy vir hulle kleindogter se doop in die Kaap was.
Mnr. Deon Klopper (63), ’n kankerlyer op Morgenzon, het die wind van voor gekry.
Mnr. Klopper was vir behandeling by die Steve Biko Hospitaal in Pretoria toe daar by sy huis op 20 Oktober ingebreek is en onder meer lewensnoodsaaklike pille gesteel is.
Sy vrou, Valerie, was ook nie tuis nie, omdat sy vir hulle kleindogter se doop in die Kaap was.
’n Buurvrou het hom gebel oor die voorval en die polisie het klaarblyklik gesê daar moet gewag word totdat hy terugkom.
Toegang tot die huis is verkry deur die diefwering te verwyder.
Na sy terugkoms op 31 Oktober het hy werk gemaak daarvan om die pille in die hande te kry.
“Ek lewe van dag tot dag en dit is aardse goed,” het mnr. Klopper gesê.
Hy het met sy dokter in aanraking gekom om die voorskrif na die apteek deur te faks.
Mnr. Klopper ondergaan streng behandeling wat bestraling en chemoterapie insluit.
Na ’n beenbiopsie in Desember verlede jaar op Volksrust is ’n gedeelte van sy dikderm verwyder en hy maak gebruik van ’n kolostomiesakkie nadat dikdermkanker en selkanker gediagnoseer is.
“Die kanker is onomkeerbaar,” het me. Klopper gesê.
Die doodsvonnis stuit hom nie in sy ywer om die aarde se natuurlike hulpbronne te beskerm nie.
Hy maak sout- en peperpotjies uit kalbasse en het ook ’n erdwurmboerdery as deel van herwinning.
“Ek probeer die omgewing skoon kry,” het mnr. Klopper gesê.
Nadat een Aardklop-kunstefees met 2 700 kalbasse bygewoon is, was hy R58 000 ryker.
Dié staatspasiënt glo nog steeds aan ’n lewe van gehalte.
Die polisie ondersoek tans die saak.



