Opvolg artikel
Me. Lelanie de Kock met wie die voorval gebeur het, het op die koerant se Facebookblad kommentaar gelewer en gesê: “Die voorval waarvan hier gepraat word, het met my gebeur.
“Ek het my vriendin gaan aflaai direk na ek by die gimnasium was, toe het ek terug Spar toe gegaan om my man en kinders daar te kry, maar hulle was reeds buite toe ek daar aangekom het.
“Ons was met twee voertuie daar omdat ek my bakkie by Toyota gaan haal het nadat hy gediens is.
“My kinders het saam met my terug na my bakkie geloop en toe ek by my bakkie aankom het ek die persoon agter in my bakkie gesien.
“Ek het begin skree en hy het voor by die passasierskant uitgespring want my bakkie het ’n kinderveiligheidsstelsel op.
“Ek het begin skree en om hulp geroep en ’n hele paar mense het my kom help.
“Die man is by die Sasol Vulstasie gevang en lede van die sektorpolisie het opgedaag en my gehelp en die polisie geskakel, maar die polisie het nooit opgedaag nie.
“Die man is op ’n bakkie deur die sektorpolisie gelaai en na die polisiestasie geneem.
“Ons het op die toneel agtergekom dat my GPS nie in die bakkie was nie en die afstandbeheer waarmee die man my bakkie oopgehou het, is agter in die bakkie gevind.
“Hy het alles wat hy wou steel in my gimsak gepak, maar hy het nie tyd gehad om dit te neem nie want ek was twee of drie minute nadat ek my bakkie verlaat het, weer terug.
“Die sektorpolisie is baie beter as die polisie, want hulle daag vinnig op terwyl die polisie nie opdaag nie.”
Nóg ’n leser, me. Isabel Deacon, het ook op die koerant se Facebookblad kommentaar gelewer en gesê dat dieselfde met haar gebeur het.
Me. Deacon het gesê: “Dit het verlede week ook met my gebeur in die ou Woolworths parkeergebied.
“Gelukkig het ek dit gou agtergekom omdat die bakkie nie die geluid gemaak het toe ek dit gesluit het nie.
“Die skelms is aan die werk.
“My bakkie is ook ’n Toyota en ons is al twee keer so gevang.
“Die een keer was by die klein Pick n Pay en die ander keer in Pretoria.
“Ek het my bakkie se afstandbeheer nou aan die toeter laat kooppel, so nou kan ek hoor of die bakkie gesluit is wanneer ek die afstandbeheer se knoppie druk.
“Die eerste keer is twee selfone gesteel en die tweede keer is my seun se selfoon en sy tablet gesteel.”
Luitenant Bettina Zondo, skakelbeampte van Secunda Polisie, het inwoners gemaan om seker te maak al die deure van hul voertuie is gesluit.
Sy het inwoners ook aanbeveel om nooit by verlate plekke te parkeer nie, maar eerder waar daar ander motors ook geparkeer is.
Oorspronklike artikel
SECUNDA – Die publiek en lede van Sektor 4 se sektorpolisie het onlangs saamgestaan en ’n dief gevang voordat hy met ’n inwoner se besittings kon vlug.
Die inwoner het by Standardbank in die sentrale sakekern gestop om geld te trek en haar bakkie gesluit.
Sy het gemerk dat haar bakkie se deur oop was en ’n man iets vanuit die bakkie geneem het.
Sy het hom aangespreek en hy het gesê die bakkie se venster was oop.
Haar GPS was weg en sy het om hulp geroep.
Die publiek en lede van die sektorpolisie was vinnig daar om die man vas te trek.
Hulle het ’n afstandbeheer soos dié wat gebruik word om huise en hekke mee oop te maak, aan die man gekry en hy het dit glo gedruk wat veroorsaak het dat die vrou se bakkie nooit gesluit was nie.
Die polisie het later opgedaag en die man na die polisiestasie geneem.



