BETHAL – Mnr. Hendrik Hart (29) is op Vrydagaand, 12 Desember kort voor die Cedar Peak Spur se toemaaktyd glo deur ’n kelner met ’n mes gesteek.
Die tafel waar mnr. Hart en sy vriende net voor toemaaktyd gaan sit het, was glo nog vuil.
“Ek het die kelner gevra om dit skoon te maak, maar toe gooi hy ’n houding,” het mnr. Hart gesê.
“Die diens het daarna versleg.”
Hy het gesê dat die kelner drankies aangedra het en met sy hande aan die bokant van die glase gevat het en toe hy die kos gebring het, het hy sy vingers in die bord gedruk.
Mnr. Hart was om 10nm, teen toemaaktyd, steeds nie klaar geëet nie toe die kelner met ’n besem gevee het waar hulle gesit het en stof het glo in hul kos gekom.
“Hy het my aspris uitgetart en toe ek opstaan om hom van ons tafel af weg te stoot, het hy reeds die steakmes in sy hand gehad en my gesteek,” het hy gesê.
Hy is in die Mediclinic Highveld se ongevalle-afdeling opgeneem waar hy twee steke gekry het en dieselfde aand ontslaan is.
“Ek voel al beter,” het hy gesê.
Volgens die prokureur van die bestuurder van dié Spur, mnr. Jakes van Strijp, moes die voorval nooit gebeur het nie en dié as ’n uiters betreurenswaardige voorval beskryf.
Hy het gesê die kelner is nie afgedank of aangekla nie.
“Daar was ’n woordewisseling en mense van verskillende rasgroepe het goed kwytgeraak wat mense in dié land nie vir mekaar behoort te sê nie,” het mnr. Van Strijp gesê.
Volgens konst. Thomas Mogadime, kommunikasiebeampte van die Bethal Polisiestasie, is daar nog geen saak by die polisie geopen nie.



