Twee mans teiken Secunda-vrou
Grondpad by vliegveld is gevaarlik, vermy dit.
SECUNDA – Me. Yolandi Coetzer is op Donderdag, 11 Desember op die grondpad naby die vliegveld deur twee mans wat uit ’n taxi geklim het, geteiken.
Sy het vir die taxi’s wat op dié grondpad gestop het om mense op en af te laai, getoet omdat sy nie verby kon ry nie.
Twee mans het uitgeklim en haar passasiersdeur probeer oopmaak, maar was onsuksesvol. Hulle het gewys dat sy die venster moes afdraai, maar toe sy haar kop geskud het, het hulle die venster met ’n klip stukkend gegooi.
Hulle het haar handsak met haar selfoon en bankkaarte in gegryp en weggehardloop. Sy het weggejaag en die gebeure by die polisie aangemeld.
Mnr. Garth Calitz wat op Sektor 1 polisiëring se komitee dien, het mense aangeraai om nie dié pad te gebruik nie.
“Daardie pad is gevaarlik en motoriste moet oppas vir mense wat in taxi’s ry,” het hy gesê.



