Kansa ondersteun kankerlyers op Kankerdag
Besoek Kansa se webwerf vir meer inilgting.
SECUNDA – Kansa vier op Woensdag, 4 Februarie wêreldwyd Kankerdag en dié organisasie glo deur die emosionele, geestelike en fisiese impak van kanker behoorlik te verstaan en dienooreenkomstig daarop te reageer dit dan aanleiding sal gee tot die maksimalisering van die lewensgehalte van pasiënte, hul gesinne en versorgers.
Kansa se sorgsentra bied omvattende programme vir die versorging en ondersteuning van mense wat deur kanker geraak word om sodoende die beste oplossing vir die hantering van alle aspekte van kanker, ook die newe-effekte van die behandeling, te vind.
Kansa verskaf ook hulp om die risiko van kanker te verlaag en gee inligting oor siftingstoetse vir die vroeë opsporing van kanker.
Dié organisasie het die feit benadruk dat kanker nie buite beheer is nie en dat die impak van dié siekte verminder kan word.
Me. Elize Joubert, Kansa se waarnemende hoof uitvoerende beampte het gesê: “Wêreld Kankerdag is belangrik omdat die wêreldwye kankerepidemie groot is en nog steeds besig is om te groei.
“Daar sterf tans 8.2 miljoen mense jaarliks aan kanker en in Suid Afrika word meer as 100 000 mense jaarliks met kanker gediagnoseer.
“Wêreld Kankerdag help ons om die woord te versprei en om die profiel van kanker te verhoog.”
Volgens die Center for Disease Control and Prevention (CDC), sterf meer as twee keer soveel mense aan kanker as aan vigs, malaria en tuberkulose gekombineerd.
Die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) het voorspel dat die wêreldwye aantal kankersterftes teen 2030 met 80 persent sal toeneem as daar nie onmiddellik ingegryp word nie en ook dat die meeste aantal sterftes in lae en middelvlak lande sal voorkom.
Onder die vaandel van Nie Buite ons Bereik nie, fokus Wêreld Kankerdag op ’n positiewe benadering tot die stryd teen kanker en beklemtoon dat oplossings aangaande kankersorg en vroeë opsporing wel bestaan en dat dit binne bereik is.
As deel van Wêreld Kankerdag maak Kansa die deure van hul 30 Kansa Sorgtuistes landswyd oop en nooi gemeenskappe, werksplekke en die media om op die opedag die sorgtuistes te besoek en meer oor Kansa se sorg- en ondersteuningsprogramme uit te vind.
“Ons wil seker maak dat minder mense kanker ontwikkel en dat kankeroorwinnaars suksesvol behandel word,” het me. Joubert gesê.
“Kansa bied sorg, ondersteuning, leiding en raad aan almal wie se lewe deur kanker geraak word om sodoende hulle lewensgehalte te verbeter.
“Vir talle mense is die kankerdiagnose wat hulle in die gesig staar, die moeilikste tyd in hul lewens.
“Die instandhouding van sosiale ondersteuningsnetwerke en om oor kanker te praat, is belangrik vir die persoon wat met kanker saamleef en die mense wat hulle versorg.
“Ons moedig kankeroorwinnaars aan om by ons iSurvivor-program (www.isurvivor.org.za) aan te sluit.
“Dit vorm deel van ons internet ondersteuningprogramme en is ’n gratis kursus per e-pos wat deur ’n kankeroorwinnaar geskryf is om ander oorwinnaars te help om die diagnose van kanker beter te aanvaar en te hanteer.
“Dit is ’n hanteerbare gids wat al die nuttige en beskikbare hulpbronne bevat asook inligting soos gesondheid, waar die naaste Kansa Sorgsentrum geleë is, hoe om ’n gebalanseerde lewenswyse te handhaaf, hoe om die risiko van terugkerende kanker te verminder en waar om ondersteuning en berading te kry.”
Vir meer inligting besoek Kansa se webwerf by www.cansa.org.za of skakel 800 226 622 of stuur ’n e-pos na info@cansa.org.za.
Kansa is ook op Twitter en op Facebook.
Om meer oor Kansa te lees, kliek hier.
Vir meer nuus besoek gerus ons webtuistes:
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
BBM – 29C64351
WhatsApp – 082-611-3867



