EVANDER – ’n Man het op Maandag, 26 Januarie glo ‘n 14-jarige seun deur die gesig geslaan en hom gedreig.
Die seun is ’n leerling van Jim Tonderskool op Bethal.
Hy was blykbaar Maandag laat vir skool en het deur die park in Dublinweg op Evander geloop.
“Ek loop altyd om die park, maar vanoggend was ek laat en ek het gedink dit sal vinniger wees as ek deur die park loop.”
Volgens die seun het ’n man in sy laat dertigs voor hom geloop en hy het aan die man gestamp en op sy voet getrap met die verbygaan.
Die man het omgedraai, hom deur die gesig geslaan en vir hom gesê hy moet versigtig wees, want die man weet glo wie hy is.
“Ek kry steeds die beeld van die man in my kop wat my geslaan het,” het hy gesê.
Inwoners sien die park as ’n gevaar vir hulle kinders en wil graag die publiek bewus maak dat hul kinders nie dié park as deurgang moet gebruik as hulle soggens skool toe loop nie.
Die seun en sy ma was by die polisie om ’n klag te lê, maar volgens Evander Polisie kan hulle nie hulle help nie, omdat daar te veel mense is wat die park as deurgang gebruik en hulle kan nie vastel wie die verdagte is nie.
“My kind is getraumatiseerd en ek wil nie hê dieselfde moet met ander ouers se kinders gebeur nie,” het die kind se ma gesê.
Volgens sers. Sibusiso Mbuli, skakelbeampte van die Evander Polisie, was daar al menige gevalle van aanrandings en hy het die publiek gemaan om versigtig te wees as hulle die park gebruik.
“Dit is ons plig om ons kinders te beskerm en ons vra dat ouers paraat is as hul kinders iewers heen gaan,” het sers. Mbuli gesê.
Vir meer nuus besoek gerus ons webtuistes:
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
BBM – 29C64351
WhatsApp – 082-611-3867



