Boer geskiet, aangerand in Leandra-plaasaanval
Polisie neem twee aanvallers in hegtenis.
LEANDRA – Mnr. Wimpie en me. Sunet Oosterhuis is op Woensdag, 4 Februarie omstreeks 10nm op hul plaas deur drie mans aangerand.
Die egpaar woon op ’n plaas tussen Leandra en Delmas en het by hul motorhuis ingery nadat hulle op Delmas was.
“Toe ek die bagasie uit die motor laai, het drie mans op my afgestorm en my met kieries en ysterpype begin slaan,” het mnr. Oosterhuis vertel.
Me. Oosterhuis het gegil en een van die mans het ’n vuurwapen op mnr. Oosterhuis gerig en hom in die linkerarm geskiet.
Hulle het hom later geskop en geslaan en vir geld gevra.
“Hulle het gesê hulle soek R10 000 en my vrou in die huis geneem waar sy die kluis vir hulle moes oopsluit sodat hulle kon sien daar was nie geld in nie.
“Hulle het egter aangehou om geld te eis en gesê hulle weet ons het geld in die huis.
“Ons het toe geld wat ons op ’n ander plek in die huis gebêre het, aan hulle oorhandig.”
Dit was egter nie genoeg vir die aanvallers nie en hulle het me. Oosterhuis se juwele gevat en mnr. Oosterhuis se trouring gesoek.
“Ek het vir hulle gesê ek dra nie ’n trouring nie, maar hulle het aanhou vra.
“Ek het naderhand vir hulle gesê hulle kan my bakkie neem en die sleutels vir hulle gegee,” het hy gesê.
Die aanvallers het nog van die egpaar se besittings op die bakkie gelaai en gevlug.
Me. Oosterhuis het na die bure se plaas gery en hulp ontbied en die egpaar is na die Mediclinic Highveld op Trichardt geneem waar mnr. Oosterhuis nog behandeling ontvang.
Volgens hom het die polisie reeds twee van die aanvallers met die bakkie betrap en in hegtenis geneem.
Vir meer nuus besoek gerus ons webtuistes:
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
BBM – 29C64351
WhatsApp – 082-611-3867



