Koshuismeisies drie weke sonder warm water, AfriForum gryp in
AfriForum het op 24 April die Belladonna-koshuis van die Hoërskool George Hofmeyr se warmwaterstelsel herstel.
AfriForum het op 24 April die Belladonna-koshuis van die Hoërskool George Hofmeyr se warmwaterstelsel herstel.
Die meisieskoshuis is sedert Maart sonder warm water.
Volgens mnr. Hillel Coetzer, AfriForum se takvoorsitter op Standerton, het die skoolhoof die probleem by die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling aangemeld, maar hul versoek het op dowe ore geval.
“Die departement is vir die instandhouding van die skoolkoshuise verantwoordelik,” het mnr. Coetzee gesê.
“Dit is onaanvaarbaar dat meisies so kort voor winter sonder warm water moes klaarkom.”
Die meisies se ouers het die saak onder mnr. Coetzer se aandag gebring.
Die AfriForum-tak het dadelik oorgegaan tot aksie.
“Ek is bly dat ons die leerlinge kon help, maar hulle het reeds te lank daarmee saamgeleef,” het mnr. Jaco Grobbelaar, AfriForum se assistentkoördineerder gesê.
“Ons, as burgerregte-organisasie, is daar om gemeenskappe te ondersteun wat aan die kortste end trek, omdat die regering nie dienslewering as prioriteit ag nie.”
Ons sal sover moontlik help om probleme op te los,” het mnr. Grobbelaar ook gesê.
Me. Lumka Oliphant, woordvoerder van die Departement van Sosiale Ontwikkeling kon nie teen druktyd kommentaar lewer nie.




