NewsSchools

Hoof groet skool

Mnr. Charles Pentz is as waarnemende hoof aangestel.

BETHAL – Mnr. Kobus du Plessis, hoof van Laerskool H.M. Swart, het die skool na 14 jaar gegroet.

Hy het op 27 Augustus 2001 op 36-jarige ouderdom by die skool begin en wil nou nuwe uitdagings aanpak.

Die skool se getalle het van 323 leerlinge na 580 gegroei in sy tyd as hoof.

Mnr. Du Plessis en sy seun Hanro gaan saam ’n onderneming begin en hy will ook sy boerdery uitbrei.

“Ek tree nie af, ek tree aan,” het mnr. Du Plessis gesê.

Hy glo dat ’n hoof nie te lank by ’n skool moet bly nie omdat vernuwing en verandering nodig is.

“In ’n veranderende wêreld, is dit nodig om nuwe idees en nuwe mense in te bring,” het hy gesê.

Voordat mnr. Du Plessis die bevordering as hoof by H.M. Swart gekry het, was hy vir jare die departementshoof by Laerskool CR Swart in Middelburg.

“Dit is nie lekker om weg te gaan nie omdat ek baie lief vir dié wonderlike skool geword het, maar vir my het die wiel ’n volle sirkel gedraai.

“Om skoolhoof te wees, is soos om die Anaconda-rit by Gold Reef City Pretpark in Johannesburg oor en oor te ry, die hol kol kom elke keer terug en die opwinding bly, maar jy weet ook êrens gaan jy aan die skree gaan,” het hy gesê.

Mnr.Charles Pentz is die waarnemende hoof totdat die pos geadverteer word.

“Hy is ’n bekwame mens en loop al die pad vir 14 jaar saam met my.”

Die uitdagings as skoolhoof is finansies.

Dit is moeilik om gehalte onderwys te bied, maar ook die skoolgebied binne beheer te hou.

“Ons het altyd gesê dit is om soos ’n Mercedes te probeer ry en net ’n Toyota se paaiement te betaal, dit werk nie altyd so lekker nie.”

Verder het hy gesê dat hy die kinders met al hul streke en kinderlike opgewondenheid oor elke klein dingetjie die meeste gaan mis.

“Dit is lekker om saam met die leerlinge bly te wees op hulle prestasies en om as ’n span saam met die personeel te werk.

Mnr. Du Plessis is op 7 Augustus 1964 in Pretoria gebore.

Hy het sy skoolloopbaan op Phalaborwa voltooi en het vir vier jaar lank in Pretoria studeer voordat hy vir twee jaar in die weermag was.

Hy en sy vrou Verie is in 1986 getroud en die egpaar het twee kinders, Alet en Hanro.

In sy vrye tyd doen hy graag houtwerk, vang vis, ry fiets en boer.

Mense wat vasbyt in slegte tye, kanse waag en die onmoontlike aanpak, inspireer hom.

“My gesin inspireer my ook daagliks met hulle blinde positiwiteit en vertroue in hul eie toekoms en die van die land,” het hy gesê.

“Good is the enemy of great,” is sy lewensmotto.

Sy raad aan die nuwe hoof is om te weet dat hy min vriende en baie uitdagings gaan hê.

“Elkeen gaan ’n opinie oor jou hê, maak nie saak of dit die waarheid is óf nie, leer net om te deligeer, maar ook om hard te werk, innoverend te wees en nooit uit planne te raak nie.”

Volgens hom is dit ’n voorreg om hoof te wees, nie’n reg nie.

“Dankie aan almal wat die pad saam my gestap het, die ouers en leerlinge maak die skool en doen goed vir die skool sonder vergoeding, hulle is ’n merkwaardige span .”

Onderwysers het volgens hom die beste werk en hulle moet dit elke oomblik geniet en dit die moeite werd maak.

Iets wat hy vir die onderwysers wil agterlaat is, “Life is a journey, enjoy the ride.”

 

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge TimesStanderton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button