Absolute chaos heers op Bethal
Die een waterpyp na die ander breek.

BETHAL – Inwoners is die josie in.
Sommiges sit al sedert Vrydag sonder water weens waterpype wat breek.
Die een pyp na die ander breek en ‘n inwoner het vanmiddag gesê dit is “absolute chaos” in die dorp.
Die koerant het vanmiddag met die munisipale woordvoerder gepraat wat gesê het die probleem is opgelos.
“Ek kom nou net van Bethal af en die probleem het ontstaan weens Rand Water wat instandhouding doen.
“Dit was nie die munisipaliteit se skuld nie,” het hy gesê.
Die koerant het sy kommentaar skaars op Facebook met lesers gedeel, toe onvergenoegde Bethallers laat weet het die “man weet nie waarvan hy praat nie”.
Die probleem was geensins opgelos nie.
Toe die woordvoerder meer as ‘n uur en ‘n half gelede daarvan in kennis gestel is en om kommentaar gevra is, het hy gesê die raad sal so gou as moontlik ‘n verklaring uitreik.
Intussen lyk dit asof sommiges nog ‘n aand sonder water gaan wees.
Die volgende strate ondervind waterprobleme: due Bokkestrate, Malherbe-, ou Eeufees-, Eland-, Du Plooy-, Vermooten en Chris Hanistraat.
Só lyk dit tans op die dorp.
Die koerant het nog nie weer ‘n woord van die raad oor die aangeleentheid gehoor nie.










