SECUNDA – “Motiveringsvlakke bepaal emosie en emosie bepaal jou sukses.”
Dit was deel van Fanie de Villiers, voormalige Protea-krieketspeler, se motiveringspraatjie op 15 Augustus.
De Villiers het gepraat tydens ’n manne-oggend by Kruik en mans en seuns van alle ouderdomme laat saam lag.
Hy het die gehoor vermaak deur meer te vertel oor hoe hy die vernederende oomblikke in sy sportloopbaan hanteer het.
Fanie het staaltjies vertel van dinge wat hy al as sportster moes deurmaak en ook van dit wat daagliks tussen sportmanne verkeerd loop.
“Mense moet nie te vroeg sportsterre, nasionale spanne en afrigters kritiseer nie.
“Aanhangers weet nie altyd wat agter die skerms aangaan nie.”
De Villiers het op Deneysville skoolgegaan.
Daar was slegs 50 leerlinge by die skool en Fanie het vinnig bo sy klasmaats uitgestyg.
Die gemeenskap van Deneysville het vir die poskantoor `n televisie gekoop sodat niemand Fanie se wedstryd moet mis nie.
De Villiers het spesifiek met pa’s gepraat en hulle herinner dat dit balangrik is om jou kind nog krieket- en rugbyveld toe te neem en saam met jou kind te speel.
Ouers moet hul kinders weer motiveer en gehalte tyd saam met hul kinders bestee.
As jy as ouer net voor die televisie sit, sal jou kind nie leer om fiks te word, te oefen en leer om die buitelig te geniet nie.
Jy kan op ’n speelse manier jou kind leer om lief te word vir sport.
“Tussen al die probleme en dinge wat in vandag se tyd verkeerd gaan, is daar nog mense wat bo uitstyg.
“Daar is nog mense wat iets neem en dit in goud laat verander.
“Gewone mense kry dinge reg wat ander nie kan reg kry nie, bloot net omdat hulle meer tyd daaraan bestee en ekstra insit.”
Mense moet uit `n ander oogpunt na dinge begin kyk.
Sodra jy ’n situasie ontleed, kan jy sien wat kan werk en wat nie kan werk nie.
As kind het Fanie se pa hom van die “Reasonable Man”-konsep vertel.
Omdat Fanie ’n besige en stout mannetjie op skool was, moes sy pa al op `n jong ouderdom vir hom verantwoordelikheid leer.
Hy het aan hom verduidelik dat wanneer hy binne die wette van land en riglyne en reëls van die skool bly, sal hy uit die moeilikheid uit bly.
Wanneer dit by sport kom, moet hy nooit soos die “Reasonable Man” optree nie.
In dié geval moet jy meer doen.
`n “gewone man” sal net na die krieketoefening toe gaan en saam met die span oefen, maar iemand wat hoër hoogtes wil bereik, sal meer tyd moet insit.
Wanneer jy meer gee, sal jy meer bereik.
Fanie het tussen studietye by die koshuis met gewigte begin oefen, nog balle geslaan en meer gedoen as die res van sy spanmaats.
Hy het later die vrugte van sy harde werk gepluk.
“Jy kan dalk nie die beste wees nie.
“Daar sal altyd iemand wees wat beter is as jy, maar omdat jy sterker is kan jy jou teenstander klop.
“Ek was sportman van die jaar, nie omdat ek beter was nie maar bloot net sterker omdat ek harder gewerk het en meer tyd bestee het aan dit waarvan ek ’n sukses wil maak.”
Die oggend is afgesluit deur mnr. Piet Jacobs.
Hy het vertel dat manne weer ’n persoonlike verhouding met God moet hê.
“Jong manne het vandag nie meer hoop vir die toekoms nie, maar Oom Piet het hulle daaraan herinner dat God ’n droom vir hulle het, maar as jy nie ’n pad saam met God gaan stap nie, sal dit in ’n nagmerrie verander.”

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
BBM – 2667A726
WhatsApp – 0748877590



