‘n Grepie uit die verlede
Die hele De Witt-gesin is perdeliefhebbers en sy oorspronklike plan was om dié spoggerige ryding te bou vir sy seun en dogter wat ook hul eie perde het.
Maande lank draai mense se koppe as hulle verby ‘n sekere huis in Camdenlaan ry. Eers het almal gewonder wat op dees aarde daar staan. ‘n Ossewa?
Nee, dis ‘n koets.
Die Hoëvelder het met die koetsbouer gaan gesels om die storie agter dié stukkie nostalgie wat in sy voortuin in wording is, te hoor. Joseph de Witt vertel dat hy nog altyd ‘n koets wou bou en na sy mening is daar min dinge mooier as ‘n koets met pragtige perde vooraan.
Die hele De Witt-gesin is perdeliefhebbers en sy oorspronklike plan was om dié spoggerige ryding te bou vir sy seun en dogter wat ook hul eie perde het. Dit het twee maande geneem om die koets te bou.
Afgesien van sy gesin wat so af en toe moes help vashou of koffie aandra en die wielbande se rondings wat deur ‘n maatskappy in Johannesburg gebuig is, het Joseph alles self beplan en gebou.
Dit was vir hom ‘n groot genot om die koets by die huis en naby sy gesin te bou.
“Ek het twee maande hard gewerk om dit klaar te maak en iets wat as ‘n passie begin het, het ook so geëindig,” het hy gesê.
Ná ‘n eenparige gesinsbesluit, sal die koets nou sy tuiste by ‘n ander perdeliefhebber
in die Laeveld vind.
Dié skeppende man is reeds besig met klein projekte en hoop om in die nabye toekoms wel ‘n koets vir sy kinders te bou.
Joseph wat oorspronklik uit Namibië (destyds Suidwes-Afrika) kom, vertel van sy pa wat in die Okahandja-distrik geboer het.
Ermeloërs sal sy pa wat as “oom Cowboy” bekend gestaan het, nog onthou met hoed op die kop en rewolwers aan die sye en ‘n man wat perde geken het.
Dis ook by sy pa waar hy sy voorliefde vir perde gekry en die kuns van perdekarbou geleer het.
Sy pa het perdekarre en vierwielwaens gebou en tooms en saals uit leer gemaak.
Van die wilde perde wat sy pa gevang het, is aan die destydse sirkusbaas van die Boswell Wilkie-sirkus verkoop.
Joseph vertel met trots dat hy ‘n paar jaar gelede die voorreg gehad het om die troppe perde wat steeds vry in die distrik loop, vir sy vrou, Alta, te gaan wys.
Dié Ermeloër is ook bekend as evangelis wat gereeld dienste in die SAVF-Huis vir bejaardes op die dorp hou.
Hy was ‘n treindrywer en het sy werk in 2001 bedank om voltyds vir die Here te werk.
Harde werk is die basis van sy tentbediening en om in die gemeenskap in te bou, is sy passie.
Hy sing graag en speel verskeie musiekinstrumente en het selfs verskeie kere by gemeentes buite die landsgrense opgetree.
In die voorhuis staan ‘n stoomlokomotief wat Joseph ‘n tyd gelede op skaal gebou het en wat nou ook dien as ‘n praktiese hulpmiddel in sy verkondiging van die Woord.