Geskiedenis in wit en swart verewig
Mnr. Delano (Stretch) van Staden van Morgenzon het die tydskrif in 'n plaashuis in die Piet Retief-omgewing gevind.
Wat is die kanse dat ‘n tydskrif van die 40’er jare kan opduik?
Die Standerton Advertiser is in besit van Die Brandwag se uitgawe, gedateer 27 September 1940.
Gebruik jou verbeelding en dink aan die tyd na die Eerste Wêreldoorlog, kort voor die aanbreek van die Tweede Wêreldoorlog, ‘n tyd van ponde, sjielings en pennies, sowel as waar tabakadvertensies adverteer is.
Mnr. Delano (Stretch) van Staden van Morgenzon het die tydskrif in ‘n plaashuis in die Piet Retief-omgewing gevind.
As ywerige versamelaar het hy dit nie weggegooi nie, maar saam met sy potskerfkarretjie, ou messe, ou Suid-Afrikaanse seëls en vele meer vir die nageslag bewaar.
Die geskiedenis van Die Brandwag laat die jare terugkeer na 1 Februarie 1937 tot 24 September 1965, waar dié Afrikaanse tydskrif weekliks in Johannesburg verskyn het.

Die eerste Brandwag het vanaf 1910 tot 1922 onder mederedakteurskap van dr. W.M.R. Malherbe en dr. Gustav Preller verskyn en was die mondstuk van die Afrikaanse Taalgenootskap.
Die tydskrif het ‘n bydrae gelewer om Afrikaanse letterkunde te bevorder.
Selfs die buiteblaaie is deur toonaangewende kunstenaars soos Pierneef en Frans Oerder ontwerp.
Jan F. Celliers, Louis Leipoldt, Leon Maré en Jochem van Bruggen het bydraes gelewer en Toon van den Heever se eerste gedig “In die Hoëveld” het daarin verskyn.
Ander mense wat ook ‘n bydrae gelewer het was Elizabeth Eybers, Uys Krige en S. Ign. Mocke, bykans almal ontluikende skrywers van formaat wat die Afrikaanse letterkunde mettertyd sou verryk en ‘n leeslus by die publiek gewek het.
Die tydskrif is later jare gestaak.
Die eksemplaar, jaargang 1V no 164, is groter as ‘n A4-bladsy en op swart en wit gedruk.
Altesaam 40 bladsye, voor- en agterblad uitgesluit, is propvol advertensies, twee bladsye geklassifiseerde advertensies, ‘n brieweblad, kortverhale, ‘n strokiesprent en twee bladsye afgestaan aan verliefdes wat onlangs hulle verlowing bekendgemaak het.
Humor bly ook nie agterweë nie en geld word aan die leser met die beste grap toegeken. Die jongspan word nie afgeskeep nie en het hul eie blad.
Die stuk Africana is nou in veilige bewaring.
Dit is blykbaar die week vir ou geskrifte. Mnr. Johan Koekemoer, ‘n inwoner, het in Handelstraat gebly tydens die 1975-oorstroming en het eksemplare van ‘n Standerton Advertiser van 1944 en twee Eastern Transvaal Advertisers van 1956 nie gering geskat nie.
Ene mnr. Thys Lourens het met sy motorboot die inhoud van ‘n laai waarin die koerante gebêre is, veilig verwyder.
Die 1956-uitgawe bevat ‘n kennisgewing van die Verenigde Party, destyds van gen. Jan Smuts, wat in die Masonic Hotel op 23 Maart om 8nm gehou sou word.
Diegene wat in politiek belangstel, sal onthou dat die Standerton-kiesafdeling destyds deur die Nasionale Party in 1948 verower is.
Dié bydraes van die publiek is van onskatbare waarde en word waardeer.



