EntertainmentLifestyleLocal newsNews

Wen kaartjies na BZN-vertonings

Groot pryse te wen met BZN se toer na Suid-Afrika.

SECUNDA – Vir Anny Schilder en Jan Keizer, hoofsangers van die legendariese groep BZN, is hul opkomende Suid-Afrikaanse toer ’n “viering van die lewe”.

Anny is verlede jaar met borskanker gediagnoseer en hulle moes noodgedwonge hul Suid-Afrikaanse konserte kanselleer.

“Alles verander wanneer ’n mens sulke nuus kry,” het Anny gesê.

“Dit is dán wanneer ’n mens se wil inskop om te lewe.

“Ek het daardie dag besluit ek gaan nie toelaat dat dié siekte my onderkry nie. Ek wil voluit leef, gesond word en weer begin optree.”

Die behandeling was suksesvol en Anny, Jan en die res van die BZN-span het dadelik aan ’n wêreldtoer begin werk.

Anny en Jan het onlangs week vir ’n blitsbesoek na Suid-Afrika gekom om die toer, BZN Greatest Hits Show, te bemark.

BZN het in die tagtigerjare op die Suid-Afrikaanse trefferparade geboer met liedjies soos “Yeppa”, “Tonight”, “Wheels on Fire”, “Le Legionnaire”, en “Waltzing Maria”.

Hulle gaan tydens hul optredes in Suid-Afrika al die liedjies sing wat destyds van hulle ’n huishoudelike naam in Suid-Afrika gemaak het.

“Ná ’n vorige konsert in Suid-Afrika waar ons van ons nuwe materiaal gesing het, was ons Suid-Afrikaanse aanhangers se terugvoer dat hulle ons treffers wil hoor.

“Wel, ons het geluister en die BZN Greatest Hits Show is presies wat die naam sê, ’n konsert propvol van ons grootste treffers,” vertel Anny.

Een van daardie treffers is die liedjie wat alles begin het: “Mon Amour”.

“Kan jy glo dat dit volgende jaar 40 jaar sal wees sedert ‘Mon Amour’ ons kitsroem besorg het?” het Jan, wat saam met Anny dit reggekry het om ’n onbekende groep van die dorpie Volendam in Nederland ’n wêreldwye sukses te maak, gevra.

Jan en Anny onthou dit nog soos gister.

Die musiekgroep waarvan Jan deel was, het ’n vroulike sanger gesoek vir die liedjie “Mon Amour”.

Hulle het oudisies gedoen en Anny, een van Jan se vriende se sussie, het die werk gekry.

“Ons was nie mal oor mekaar in die begin nie, maar ons het besef dat ons stemme fantasties saamwerk,” het Jan laggend gesê.

Deur die jare het dié twee egter ’n hegte vriendskap gebou en nou, bykans 40 jaar later, is hulle onafskeidbaar.

“Mon Amour” is opgeneem en die liedjie is versprei.

Meer as 50 van BZN se liedjies het oor die jare die nommer een posisie op treffersparades wêreldwyd beklee en die groep het meer as 30 albums vrygestel.

Hulle word steeds beskou as die beste Nederlandse groep nog en niemand kon nog hul trefferrekord ewenaar nie: hulle het vir 26 jaar agtereenvolgend ’n treffer gehad op die Nederlandse Top 40, wat een van die grootste trefferparades in Europa is.

Jan en Anny word tydens hul SA toer vergesel deur die BZN-orkes en twee bekende Suid-Afrikaanse sangers en televisie-aanbieders, Nádine en Gerrie Pretorius, sal saamtoer as gaskunstenaars.

Een gelukkige leser kan ’n pakket wen met twee kaartjies vir die Pretoria- of Johannesburg-vertoning.

Die pakket sluit ’n getekende album in en ’n ontmoeting met BZN.

Die tweede prys is twee kaartjies vir die Johannesburg- of Pretoria-vertoning, sowel as ’n getekende album.

Die derde prys is twee kaartjies vir die Johannesburg- of Pretoria-vertoning.

Stuur jou antwoorde op die volgende vrae met jou naam en van, selfoonnommer en jou e-posadres en na watter vertoning en op watter datum jy graag wil gaan kyk na reporter1@echoridge.co.za.

* Waarom moes BZN hul vorige Suid-Afrikaanse toer kanselleer?

* Wat is die liedjie se naam wat BZN 40 jaar gelede kitsroem besorg het?

Kaartjies is reeds beskikbaar by Computicket. (Pretoria vertoning beskikbaar by iTickets.)

Die volledige toerprogram is:

* 29 Oktober, Oos-Londen

* 31 Oktober, Paarl

* 1 November, George

* 3 November, Klerksdorp

* 4 November, Pretoria

* 6 November, Nelspruit

* 7 en 8 November, Johannesburg.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.

Ridge TimesStanderton Advertiser & Highvelder

”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.

Vir nuus na jou selfoon:

BBM – 2667A726

WhatsApp – 0748877590

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button