EntertainmentLifestyleLocal newsNews

Herleef ’n stukkie geskiedenis

Die verrassing en trots kon hul nie wegsteek toe hul verneem dat hul tweede in Transvaal geëindig het nie.

Gedurende 1981 het die Wolraad, met die medewerking van die S.A. Vrouelandbou-unie, ’n borduurkompetisie vir ’n Volkstapisserie, wat beperk word tot lede van die unie, geloods.

’n Tapisserie in die vorm van ’n muurbehangsel of paneel/le wat die Suid-Afrikaanse volksgeskiedenis, volkslewe, nalatenskap, industrieë, nywerhede, landbou, fauna, flora, ens uitbeeld.

Me.Tini Vorster, beskermvrou, sou dit tydens die Republiekfees van 1981 namens die volk in ontvangs neem.

Die behangsel bly die eiendom van die dorp of stad van herkoms waar dit prominent ten toon gestel moes word.

Gewone kruissteek of kruissteekvariasies met Soedanwol waarvan 70 tot 80% Suid-Afrikaans moet wees, moes gebruik word. Pryse kon in die provinsie verower word, sowel as ’n algehele wenner uit al die destydse vyf provinsies.

Pryse sou slegs toegeken word as die gehalte dit regverdig het.

Geld om die koste van die projek te dek moes deur die borduurgroep self gevind word (destyds) sowat R150 tot R200 vir die gaas en wol, plus koste van die ontwerp en afwerking van die stuk wat gebruik sou word.

Elke tak wat ’n stuk ingeskryf het moes ’n volledige werkprogram hou met interessante inligting omtrent die hele onstaan van die werkstuk en moes verder toegelig word met paspoortgrootte foto’s van die borduursters.

Die volgende vroue, wat almal lede was van die omliggende dorpe se VLU-takke, het aan hierdie ontwerp borduur: M Boshoff (streeksvoorsitter), R Kuun (naaldwerk-sameroeper) en die borduursters was M Oosthuizen, B Zietsman, S Seigell, M Coetzee, L Potgieter, A Kapp, G van den Berg, M Swart, A Gräbe, J Groenewald, M Uys, E Schoeman, R Lourens, S Steyn, K Marais en R du Preez.

Die hele land se VLU-takke moes so ’n ontwerp maak.

Die oorspronklike idee vir die projek was dat die destydse stadsraad die projek sou borg en dat die voltooide borduurstuk in die burgemeester se onthaalarea sou hang.

Die stadsraad kon nie die borgskap verskaf nie en Hoërskool Standerton het toe daarvoor ingestaan.

Die geraamde borduurstuk is dus die eiendom van die hoërskool.

Plaaslike kunstenaar, mnr. Nick Oosthuizen, is gevra om die borduurstuk te ontwerp.

Die oorspronklike ontwerp hang vandag nog in me. Martie Pretorius se klas by Laerskool Standerton.

Met dié werkstuk het die vroue van Standerton probeer om enkele landboufasette, ’n deel van die fauna en flora en ’n paar geskiedkundige bakens uit die distrik uit te beeld.

Die tipiese Hoëveldse plaas met sy gemengde boerdery was ook op Standerton algemeen.

Die Merino-skaap speel steeds ’n belangrike rol en die mielieverbouing is vandag ’n gevestigde boerdery.

In die vyftiger jare was Standerton die distrik met die meeste geregistreerde perde in die hele Suid-Afrika.

Vandag is daar nog boere in die omgewing wat met perde boer.

Van die mees bekende renperde en saalperde is in die distrik geteel.

Standerton was by uitstek ’n melkdistrik met weinig plase sonder ’n melkery.

Die grootste deel van die land se melk het uit die distrik gekom.

In 1980 het Standerton die tweede hoogste melkproduksie in die land gehad.

Die blesbok was die bekendste boksoort wat op die grasbulte van die Hoëveld gewei het en word vandag nog op plase in die distrik aangetref.

Net so ’n bekende gesig was die sakabula (vidua macroura) of die flap, wat in die somermaande deur die rooigras en langs die rietomsoomde vleie met sy lang stert gepronk het.

Uit die vele Hoëveldse plante word die vleilelie (crinum bulbispernum) en die brandboontjie (erythrina zeyheri ) in die ontwerp gebruik.

Die statige ou plaaswoning wat uitgebeeld is, is Rusthof, die woning van pres. Louis Botha op sy plaas Varkenspruit.

Pogings is aangewend om die huis as nasionale erfenis te laat verklaar, maar die baie onderhoudswerk wat gedoen moes word, het die hele poging laat skipbreuk lei.

Die ander historiese baken is die ou Kruger-wabrug oor die Vaalrivier.

Die brug is in die tyd van die ZAR in 1890 gebou en deur pres. Paul Kruger self in gebruik in 1891 geneem.

Die brug is tot redelik onlangs nog gebruik en staans neffens die nuwe brug.

Die borduurwerk het in 1980 begin en is in 1981 voltooi.

Werk het fluks gevorder en in Oktober 1981 is die werkstuk ingebring dorp toe waar dit in die rondawel van me. Lenie Potgieter gestaan het.

Vroue het elke minuut wat hul kon spaar, gewerk en baie gou het alles vorm aangeneem.

Me. C Schoonraad, me. E Dietrichsen en me. M Oosthuizen is genader om te kritiseer.

Foute was daar wel.

Die tappisserie in die voorportaal van Hoërskool Standerton.
Die tappisserie in die voorportaal van Hoërskool Standerton.

Trek los en maak reg was die leuse en dit het net tot meer motivering gelei.

Die takke borduur soos volg :

Platrand: Vaalrivier, brug en Botha-huis.

Kaalspruit: vleilelie en brandboontjie

Charl Cilliers: perd en agtergrond

Ons Eie: blesbok en agtergrond

Cyrus: agtergrond

Val: voël en riet

De Kuilen: groenbos en agtergrond

Vaalrivier: skaap en agtergrond

Greylingstad: bees en agtergrond

Hooggekraal; wolke

In 1981 is die werkstuk weer terug na mnr. Oosthuizen se huis en daar het me. Zietsman en me. Meyera Oosthuizen harde bene gekou om die die finale afrondingswerk te doen onder die kunstenaarsoë van mnr. Nick Oosthuizen.

Me. Schoonraad het die finale beoordeling gedoen.

Trots was al die medewerkers terwyl die paneel in die stadsaal uitgestal is tydens die sirkelkonferensie

En nog was dit die einde niet.

Al die voorgeskrewe reëls moes nagekom word, foto’s van die borduursters is geneem en die geskiedenis van die paneel moes getrou weergegee word.

Die skilderstuk moes volgens regulasies afgewerk word en die sak vir die verpakking, ook volgens die regulasies, moes net reg wees.

Me. Marietjie Swart het na voltooiing van die borduurwerk ’n pragalbum saamgestel waarin die hele verhaal van die geskiedkundige borduurstuk vertel word.

Die album was op ’n tyd soek, maar me. Nellie Potgieter het die album opgespoor en vandag is Hoërskool Standerton die trotse eienaar van die waardevolle stukkie geskiedenis.

Die borduursters van die Standerton-streek was vol vertroue dat hul nie laaste sou eindig nie.

Die verrassing en trots kon hul nie wegsteek toe hul verneem dat hul tweede in Transvaal geëindig het nie,

Ja, voorwaar, dit was die VLU-streek se trots en hul het met groot genoegdoening die kunswerk aan Hoërskool Standerton oorhandig.

Trots op Standerton se eie kunstenaar wat groot name klein laat lyk het, trots op 18 borduursters wat net hul beste gegee het en so ’n erfstuk nagelaat het.

Ure en ure se werk, jaartse en jaartse wol is gebruik.

Anneline Smith, skakelbeampte, VLU Vaalrivier.

 

 

Besoek gerus ons ander webtuistes hier:

Ridge TimesStanderton Advertiser & Highvelder

”Like” ons Facebookblad en volg ons op Twitter.

Vir nuus wat na jou selfoon gestuur word:

BBM – 266F5BCC

WhatsApp – 0748872805

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button