Oud-leerling van Hoërskool Secunda koelbloedig vermoor
Verdagtes is steeds op vrye voet ná die moord op mnr. Gavin Wolfswinkel.
SECUNDA – Mnr. Gavin Wolfswinkel (32) is Sondagaand, 15 November op ’n kleinhoewe naby Boschkop oos van Pretoria, koelbloedig vermoor.
“Ons was besig met troureëlings en nou moet ek vandag sy kis gaan uitsoek,” het sy ma, me. Sandra Wolfswinkel, tydens ’n telefoniese onderhoud met die Ridge Times gesê.
Mnr. Wolfswinkel en sy verloofde, me. Nadia Treeby, sou op 12 Desember getrou het.
Drie gewapende mans het glo toegang tot die kleinhoewe verkry, waarna die alarms afgegaan het.
Mnr. Wolfswinkel het gaan ondersoek instel en is deur een van die aanvallers in die kop geskiet.
Me. Wolfswinkel wag steeds vir terugvoering van die polisie.
Die polisie het haar wel in kennis gestel dat die verdagtes se spoor doodgeloop het, maar dat daar nog ondersoek ingestel word en na die verdagtes gesoek word.
“My man kan dit glad nie hanteer nie. Ons weet nie wat om daarvan te maak nie.”
Die Wolfswinkel-gesin het vir jare op Kinross gebly en mnr. Wolfswinkel was ’n leerling van Hoërskool Secunda.
Me. Wolfswinkel het gesê dat sy dankbaar is dat daar soveel mense is wat omgee en dat hulle in só baie mense se gebede is.
Mnr. Wolfswinkel se roudiens vind Vrydag, 20 November in die Collage-gemeente, Elarduspark, Pretoria plaas.


Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
BBM – 2667A726
WhatsApp – 0748877590



