Hans beveel tennis aan
Hy was vir jare die voorsitter van die Bethal Tennisklub en was ook verskeie kere op die Hoëveld se tenniskomitee.
BETHAL – Mnr. Hans Ludwig het sy tennisloopbaan op 83 jaar beëindig.
Dié kranige tennispeler het vir 58 jaar tennis gespeel, maar sy knie het hom die laaste ruk begin probleme gee.
“Ek het op 23 April 1958 by die Bethal Tennisklub aangesluit,” het hy gesê.
Mnr. Ludwig het al op skool tennis gespeel, maar dit was toe ’n “afskeep sportsoort”.
Hy was vir jare die voorsitter van die Bethal Tennisklub en was ook verskeie kere op die Hoëveld se tenniskomitee.
Volgens hom het dit hom bevoordeel om tot op sy ouderdom tennis te speel.
“Ek het nog geen skete nie en dit het my geestelik jonk gehou.
“Dit het my soms laat ontsnap van die slegte dinge in die lewe.”
Mnr. Ludwig het gesê dat tennis goeie kameraadskap opbou en dat daar niks moeilik aan tennis is, mens moet net fiks wees.
Dié oud-Bethaller het sy skoolloopbaan aan Hoërskool Hoogenhout voltooi en het daarna by die OTK as ’n klerk begin werk.
“Ek was deel van die span wat vir die eerste keer met die groot boksrekenaars begin werk het.”
Hy het in 1984 afgetree.
As hy nie tennis speel nie, dien hy op die plaaslike DBV se komitee as tesourier.
In sy vrye tyd lees hy graag, kyk rugby en is handig in die tuin.
Hy en sy vrou, Miempie, is al vir 58 jaar getroud en spog met een dogter en twee kleinkinders.
Mnr. Ludwig het laggend vertel dat hy nou vir die eerste keer ’n pensioenaris gaan wees.
Sy lewensmotto is om vas te byt en hard te werk.
Op ’n vraag oor hoe Bethal verander het, het hy gesê die veranderinge is skrikwekkend.
“Ek onthou die dorp as ’n skoon en netjiese boomryke dorp.
“Daar was beslis minder slaggate daai tyd,” het hy gesê.




