Raad sal verkeersligte herstel
Ondervind jy ook probleme met voetoorgange?
Verkeersligte wat by ’n groot aantal voetoorgange in Secunda buite werking is, is lewensgevaarlik vir veral skoolkinders en mense wat met fietse werk toe ry of selfs stap.
Van die verkeersligte skyn net oranje en gaan later oor na rooi, hoewel daar niemand is wat die voetoorgang wil gebruik nie.
Knoppies wat veronderstel is om die ligte van kleur te laat verander, werk ook nie.
Meeste motoriste stop nie by voetoorgange nie, hoewel daar mense staan wat die oorgang wil gebruik.
Inwoners sê:
* “My kind ry met sy fiets skool toe en ek vrees daagliks dat iemand hom gaan raak ry omdat die voetoorgange so gevaarlik is en die verkeerligte nie werk nie.”
* “Ons sal ’n hele groep mense wees wat by die voetoorgang wag om oor te gaan, maar niemand sal stop nie. Motoriste sal vir ons kyk en net verby ry. Daar is slegs nou en dan iemand wat stop.”
* “Ek wag baie keer 15 tot 30 minute in spitsverkeer voordat ek oor die pad kan ry met my fiets.”
* Ek is oud en moet oor die pad stap om by die winkelsentrum te kom. Ek kan nie meer vinnig loop nie, wat nog te sê hardloop. Ek is elke keer bang wanneer ek oor die pad moet loop en die motors jaag meeste van die keer om die draai en ry my byna raak of moet uitswaai. Iemand sal baie vinnig iets moet doen.”
Die Govan Mbeki Munisipaliteit sê:
“Ons is bewus van die probleem en werk tans daaraan.
“Sodra ons die onderdele ontvang wat nodig is om die verkeersligte reg te maak, sal ons dadelik begin om hulle reg te maak.
“’n Groot probleem is dat baie van die verkeersligte omgery of deur motoriste beskadig word.
“Vadalisme is ook ’n ander probleem en ons het die publiek se hulp nodig om te help kyk dat verkeersligte nie beskadig of vandaliseer word nie,” het mnr. Bheki Kubheka, hoof van kommunikasie en bemarking, gesê.
Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie.
Ridge Times, Standerton Advertiser & Highvelder
”Like” ons op Facebook en volg ons op Twitter.
Vir nuus na jou selfoon:
WhatsApp – 0793644185



