Polisieman onder verdenking vir seksuele misdrywe
Polisieman wou nie kommentaar lewer nie

’n Gewese polisieman van Secunda word verbind met verskeie voorvalle van onsedelike dade met vroue hier, asook in die Middelburg- en Nelspruit-omgewing.
Die man het weer onder die soeklig gekom nadat ’n 19-jarige meisie in die vroeë oggendure op Middelburg bebloed op ’n sypaadjie voor ’n gastehuis gekry is.
Hy het haar daar afgelaai en die meisie het later vertel “dat hy vir haar ’n pilletjie gegee het en sy daarna niks kon onthou nie”.
Voorvalle sluit in:
• ’n Voormalige kollega, wat saam met hom op skofte gewerk het op Secunda (wat op hierdie stadium anoniem wil bly), het vertel dat hulle in 1998 een aand uitgeroep is na ’n huis op Kriel waar ’n jong meisie gedreig het om selfmoord te pleeg.
Hulle is die huis in, waar die kollega by die familie in die sitkamer gesit het en die polisieman kamer toe is, want die meisie wou nie uit die kamer kom nie.
Volgens die kollega is die polisieman alleen na haar kamer en het ’n ruk daar vertoef.
Hy het later uitgekom, waarop die twee polisielede gery het.
Die volgende dag het die meisie en haar ouers ’n saak onder die seksuele misdrywe wet geopen.
• Die kollega het ook ‘n vooral van dieselfde jaar onthou waar ’n Kleurlingvrou na die polisiestasie gebring is “omdat sy dronk op straat was.”
Die beskuldigde het aangebied om haar huis toe te neem. Die volgende dag het die vrou klagtes van seksuele aard teen hom aanhangig gemaak. Albei klagtes is later teruggetrek.
• ’n Vrou het beweer dat die polisieman haar verkrag het toe sy 17 jaar oud was, terwyl hy gestasioneer was op Secunda.
Sy het beweer dat hy vir haar sou gesê het dat sy ’n entjie saam met hulle moet gaan ry “om vir ‘n rukkie ’n kykie te kry in die lewe van ’n polisieman.”
Volgens haar het die beweerde verkragting plaasgevind by die Eendjiedam op Secunda.
Sy het die beweerde voorval aangemeld by ’n lid van die destydse Kinderbeskermingseenheid, maar het gesê dat die lid dit nie ernstig opgeneem het nie en gesê het: “dat ons nooit weer hieroor sal praat nie.”
• Nog ’n vrou het gesê sy het in 2000 by ’n nagklub op Trichardt gewerk en die beskuldigde “het altyd in sy polisiebakkie verbygery en my talle kere na sy voertuig geroep.
Hy was altyd vriendelik en behulpsaam en het gekyk dat ek veilig by die huis kom, tot op ‘n dag dat hy my gevra het om saam met hom te ry.”
Sy het beweer dat hy haar gevra het of sy saam met hom ecstasy wil gebruik en het haar ook probeer soen.
Volgens haar is hy na ’n ongelukstoneel uitgeroep op die Evanderpad, waar hy haar uit die bakkie kom haal het om te kyk na ’n lyk van ’n vrou.
“Dit was ’n walglike toneel en ek kon nie glo dat hy so iets vir my wil wys nie.”
Sy kon “die res van die aand nie in detail onthou nie, maar ek het hom van daardie dag af vermy.”
• Hy word ook verbind met ’n verkragtingsaak in Nelspruit en ander sake van onsedelike aanranding in Middelburg waar meisies beweer het dat hulle “’n pilletjie ingegee is” en hulle “verder niks kon onthou nie.”
• Die polisieman is verlede week gevra om kommentaar te lewer oor die bewerings, maar hy wou nie eers hoor wat die bewerings was nie en wou nie verdere kommentaar lewer nie. Hierdie week het hy wéér gesê dat hy nie kommentaar wil lewer nie en het bygevoeg, “miskien later.”
• Die polisie se provinsiale kantoor het aangedui dat hulle besig is met ’n ondersoek na aanleiding van die bewerings teen die polisieman.
Brig. Selvy Mohlala (Provinsiale Hoof: Korporatiewe Kommunikasie) se antwoord was: “Ja ons werk daaraan. Soos jy kan sien, word verskillende polisiestasies hierdeur geraak.”
• Die nasionale hoof van kommunikasie, brig. Vishnu Naidoo, het gesê dat hulle nie geweet het van die klagtes nie en die koerant na die provinsiale kantoor verwys.
• Enige persoon wat meer inligting het, kan dit per e-pos stuur na daleen@mobserver.co.za of skakel (of stuur ’n sms) na 072 248 3855.



