CrimeEditor's choiceLocal newsNews

DBV trap teler vas oor honde wat mediese sorg benodig

DBV konfiskeer honde by 'n teler van gesogte klein honderasse.

SECUNDA – Insp. Jenneth Geel het gesê dat die Hoëveldrif DBV die afgelope twee weke druk besig was met bykans 30 honde wat dringende mediese sorg en algemene versorging benodig het.

Dié diere is gekonfiskeer en oorhandig nadat die DBV gereageer het op ’n klag wat deur ’n lid van die publiek gelê is.

’n Teler van klein honderasse wat haar diere oënskynlik verwaarloos het, is deur die DBV opgespoor.

Dit wil voorkom asof die teler die diere in ’n ongeventileerde houthut op ’n plaas aangehou het en net gebruik het as teeltefies sodat sy die babahondjies teen ’n groot wins aan die publiek kon verkoop as opreg geteelde hondjies van ’n baie gesogte klein honderas.

Dit word vermoed dat sy die babahondjies kort na geboorte van hul ma’s geskei het, sodat iemand wat ’n hondjie wou koop, nie die omstandighede sou sien waaronder die honde geteel en aangehou is nie.

Sy het voornemende kopers glo by haar huis ontmoet waar die babahondjies dan aan hulle gewys is.

Toe die DBV die hondjies uit die hut verwyder het, was die vloer nat van urine wat veroorsaak het dat die hondjies se voetkussinkies rou en sensitief was.

Daar was geen lopende water waar die diere aangehou is nie en die teler het blykbaar water in 25 liter kanne aangery.

Dit wil verder voorkom asof die teler laas in Februarie by die diere was.

Die bejaarde man wat aangesê was om die diere op te pas, het sy bes gedoen om die hondemis op te tel en het die water gespaar sodat die diere ten minste skoon drinkwater kon hê.

Daar was voldoende droë kos vir die diere en hulle was nie verhonger nie.

Insp. Geel het gesê die grootste probleem was die tekort aan sonlig, die swak luggehalte en dat baie van die diere te oud was om nog gesonde teeltefies te wees.

Die swak luggehalte het ook tot sinus- en longprobleme en oog- en keelinfeksies gelei.

Insp. Geel het bevestig dat die ondersoek nog hangende is en dat sy geen verdere inligting aan die Ridge Times kon gee nie.

Sy het ook gesê dat veearste van die omgewing werklik uit hul pad gegaan het om die DBV in dié situasie by te staan.

Dit is tans nie seker of die diere geskik vir aanneming is nie weens hul mediese probleme en gevorderde ouderdomme.

Mense wat werklik belangstel en wat die finansiële implikasies van ’n ouer, sieklike hond verstaan, kan wel die DBV skakel.

Dié suksesvolle reddingspoging deur die DBV kom minder as ’n jaar nadat die DBV meer as 150 honde by verskillende telers in Mpumalanga gekonfiskeer het wat onder soortgelyke omstandighede vir winsbejag gebruik is.

Insp. Geel het gesê dat die publiek altyd daarop moet aandring om albei ouers van enige troeteldier wat hulle koop, te sien, asook die omstandighede waaronder die diere gehou word.

Mense wat nie van plan is om met hul diere te teel nie, moet die verantwoordelike besluit neem om hul diere te laat steriliseer.

Die DBV benodig skenkings van blikkies hondekos, asook finansiële bydraes om die hoë veeartskostes te dek.

Die Hoëveldrif DBV se bankbesonderhede is op hul Facebook-bladsy beskikbaar.

.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button